Die handskoene is aan – Patricia reg vir geveg nadat sy uitgestem is

‘n Wantrouemosie in Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het Woensdagaand geslaag nadat die uitslag om 20:30 bekend gemaak is.

Die DA se nuwe herroepingsklousule kan beteken dat De Lille binne dae as burgemeester van Kaapstad deur die DA afgedank kan word.

James Selfe, die voorsitter van die DA se federale raad, sal haar nou amptelik inlig. Sy kan dan binne 48 uur uit haar pos verwyder word.

Nuuskierige opposisielede en amptenare wat in De Lille se kantoor werk, het Woensdagaand agtergebly om eerstehands te hoor wat die uitslag van die spesiale DA-koukus se mosie van wantroue in die burgemeester sou wees.

Die media, wat buite die raadsaal op die sesde vloer saamgedrom het, het deur die glasvensters probeer sien wat binne gebeur, maar is daarvan weerhou om foto’s van buite van die verrigtinge te neem.

Spanning het hoog geloop onder van die amptenare en raadslede selfs voordat die vergadering begin het.

De Lille self het reg agter in die raadsaal haar sitplek ingeneem terwyl haar toekoms as burgemeester bespreek is.

“Ek vrees niks nie. Ek vrees net my God,” het De Lille gesê kort voordat die vergadering begin het.

De Lille sê sy het hierdie maand 25 gemeenskapsvergaderings gehou en nie een van die gemeenskapppe met wie sy vergader het, het aangedui dat hulle vertroue in haar verloor het nie.

“Dit laat my met die kwellende vraag of hierdie raadslede wat sê dat hulle vertroue in my verloor het ooit hul gemeenskappe geraadpleeg het? Daarom, wanneer hulle vandag stem, verteenwoordig hulle hul eie baadjies en vir baie van hulle sal dit hul eie ambisie wees wat die beslissende faktor is oor hoe hulle stem,” het De Lille bygevoeg.

De Lille se mikrofoonliggie het verskeie kere aangegaan soos sy blykblaar vrae oor die mosie gevra het. Sy het tydens haar vlugtige onderhoud met die media aangedui dat sy verskeie vrae oor die wantrouemosie het.

Van die vrae wat sy gehad het, is “wat het ek gedoen sedert 9 April toe die herroepingsklousule in werking getree het, vir die mosie van wantroue om teen my gebruik te word?”

Sy sê die klousule is nie terugwerkend nie, so wat ook al sedertdien gebeur het, moet deur die koukus ter tafel gelê word.

Sy het veral kommer uigespreek dat daar reeds poste vir verskeie mense belowe is en dat dié wat in haar kantoor werk ook die trekpas sal kry.

Die burgemeester het gesê sy berus haar by wat ook al gebeur, maar het aangedui dat sy wel die saak tot die hoogste hof in die land sal neem indien nodig.

“Ek doen dit nie vir myself nie, maar ook vir ander DA-lede wat in die toekoms deur die klousule geraak sal word.”

De Lille sê daar is baie Kapenaars wat bekommerd is dat die party van haar ontslae wil raak. Die koukusvergadering het om sowat 17:15 begin en die stembokse is net na 19:00 ingebring. Die stemmery, wat in geheim gedoen is, het kort daarna begin.

Indien die mosie slaag, sal die DA se federale uitvoerende gesag De Lille die geleentheid gee om vertoë te rig oor hoekom sy nie uit haar pos verwyder moet word nie, ingevolge die nuwe herroepingsklousule van dié party.


Enjoyed this post? Share it!