Die toekenning vir die swakste munisipaliteit in SA gaan aan……Madibeng -Knap gedaan!

Die agentskap Ratings Afrika het die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes onlangs as die swakste munisipaliteit in Suid-Afrika aangewys.

Dié agentskap, wat daarin spesialiseer om onder meer regeringsentiteite te beoordeel, het Madibeng, wat die Brits-omgewing bedien, maar ses uit ’n moontlike 100 punte gegee.

Eddie Barlow, DA-koukusleier in die gebied, vra nou dat Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, by Madibeng ingryp.

Ratings Afrika het Noordwes en die Vrystaat as die vrotste provinsies in die land aangewys. Die Vrystaat het maar 19% gekry en Noordwes 23%. Die ouditeur-generaal (OG) het ook onlangs bevind dit is die twee swak presterende provinsies in die land.

Volgens Barlow is Madibeng al tevore onder administrasie geplaas, maar dit “was onsuksesvol. Dit gaan ondanks dié ingrepe slegter as ooit tevore hier.”

Die interministeriële taakspan wat die kabinet onlangs aangestel het om onrus en diensleweringsprobleme in die provinsie te ondersoek, het Madibeng ook verlede week besoek onder leiding van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie.

Barlow beskuldig Jostina Mothibe, uitvoerende burgemeester van Madibeng, nou daarvan dat sy die taakspan oor verskeie kwessies mislei het. “Dit sluit in dat sy beweer het die munisipaliteit se komitee oor openbare rekeninge funksioneer ten beste, terwyl dit in der waarheid ondermyn word en nie optree nie.”

Barlow sê haar stelling dat die teenkorrupsie-eenheid ook goed funksioneer, is onsin.

“Die komitee het nog nie een amptenaar vervolg nie, ondanks bewyse en inligting hieroor wat aan bestuurders van tersaaklike departemente verskaf is. In een geval is ’n amptenaar sewe jaar gelede geskors, maar hy is nog nie vervolg nie en ontvang nog sy volle salaris.

Tshabalala sê hy gaan nie kommentaar lewer oor die bewerings teen die burgemeester nie omdat dit “politieke kwessies is.

“Die burgemeester beweer ook portefeuljekomitees vergader maandeliks, maar sommige van hulle vergader net een keer elke twee jaar. Haar wanvoorstelling aan die komitee was ’n poging om wanbestuur en onbekwaamheid te verdoesel.”

Die DA beplan om op 28 Mei ’n mosie van wantroue teen die burgemeester in te stel.

Tumelo Tshabalala, munisipale woordvoerder, sê hulle is bewus van Afrika Ratings se gradering en werk hard daaraan om Madibeng se benarde finansies en dienslewering te verbeter. “Ons het onlangs talle vakante senior bestuursposte gevul, net een is nog vakant. Die begroting- en tesourie-afdelings is ook vernuwe. Ons doen moeite om dienstegeld in te vorder en onwettige elektrisiteits- en waterverbindings stop te sit.”

Tshabalala het gesê die bewerings dat die burgemeester die taakspan mislei het, is ongegrond.
“Die DA het geleentheid gekry om insette te lewer en die taakspan het ook gevra enigiemand met nog inligting, moet dit onder hul aandag bring.”

Foto: Jostina Mothibe, uitvoerende burgemeester van die Madibeng-munisipaliteit.


Enjoyed this post? Share it!