Adv. Sam Vukela, direkteur-generaal, onthul dit in die departement se 2017-’18-jaarverslag waaroor hy en Thulas Nxesi, minister, en Jeremy Cronin, adjunkminister, en ander departementele bestuurshoofde Dinsdag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke verslag moes doen.
Nxesi het aan die portefeuljekomitee gesê hoewel ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende uitgawes die afgelope vyf jaar betekenisvol verminder is, is die teiken om dit heeltemal uit te wis.
“Daar is steeds ernstige kommer in sekere gebiede.”
Dertien sake is ook na die batebeslagleggingseenheid verwys vir die verhaling van huurgeld wat as die opbrengs van misdaad beskou word. Dit beloop sowat R130,5 miljoen.
Volgens hom sal daar ook hard gewerk word om die ouditeur-generaal se aanbevelings vir die departement toe te pas. “Ons het egter nog ’n lang pad om te stap.”
Onlangs is berig hoe dieselfde departement ook sowat R103 miljoen oor twee jaar bestee het om ’n woonstelkompleks met 29 woonstelle in Rosebank, Kaapstad, op te knap wat hoogs betaalde ministers, adjunkministers en direkteurs-generaal vir onderskeidelik R1 200, R988 en R75 per maand kan huur.
LP’s was ook vroeër stomgeslaan omdat die departement oor twee jaar sowat R43 miljoen aan een maatskappy betaal het net om sowat 67 ministeriele huise in Kaapstad in stand te hou.
LP’s in die staande komitee oor openbare rekeninge was vroeër ook briesend toe hulle hoor dat die departement byna R500 000 bestee het om braaiplekke by drie ministers se ampswonings te bou en ook miljoene rande bestee het om luukse huise vir ministers te koop. Baie van dié huise staan egter leeg.
Vukela sê in die jongste jaarverslag, wat Dinsdag voor die komitee ter tafel gelê is, die departement het in die betrokke boekjaar al sy huurkontrakte met die private sektor hersien ten einde sy sakepraktyke in dié opsig te verbeter.
“Teen einde Maart 2018 het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoeke na 1 020 van die 2 162 kontrakte afgehandel, terwyl ondersoeke na die oorblywende 1 142 huurkontrakte in die finale fases van afhandeling is.”
Volgens hom is 29 gevalle waar bewyse van beweerde bedrog gevind is na die nasionale vervolgingsgesag verwys en is twee verhuurders aangekla.
Agt skulderkennings oor opgeblase huurgeld is ook deur verhuurders onderteken.
Die opgeblase huurgeld sluit in die huur van spasie en parkeerplekke wat nie bestaan nie, sowel as BTW-betalings aan verhuurders wat nie op sulke betalings geregtig was nie. Die verliese beloop R296,9 miljoen.
“Die opgeblase huurgeld sluit in die huur van spasie en parkeerplekke wat nie bestaan nie, sowel as BTW-betalings aan verhuurders wat nie op sulke betalings geregtig was nie. Die verliese beloop R296,9 miljoen.”
Volgens Vukela is aanbeveel dat die geld van die betrokke verhuurders verhaal word deur dit onder meer teen toekomstige huurgeld te verreken.
“Dertien sake is ook na die batebeslagleggingseenheid verwys vir die verhaling van huurgeld wat as die opbrengs van misdaad beskou word. Dit beloop sowat R130,5 miljoen.
“Die departement is ook besig om huurooreenkomste reg te stel waar die SOE minder huurspasie en parkeerplekke gevind het as waarvoor betaal is.”
Volgens hom het die departement nou ’n strategie om bedrog en korrupsie te verhoed en om etiese gedrag te bevorder.
Daarbenewens is 74 tugprosesse teen betrokke departementele amptenare afgehandel. Strawwe teen hulle wissel van afdankings en skorsing sonder betaling tot mondelinge en geskrewe waarskuwings.
Netwerk 24