Donker wolke hang oor Limpopo se finansies weens wanbestuur

Limpopo se departement van gesondheid is bankrot en het skuld van R1,7 miljard.

Dit gaan nie veel beter in die departement van onderwys in die provinsie nie.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê die onderwysdepartement het ’n agterstand van R4,5 miljard om infrastruktuur by skole in die provinsie op te gradeer.

Smalle sê hy het nie veel positiewe vooruitsigte vir die provinsiale rede wat Stan Mathabatha, premier, Vrydag in die Jack Botes-saal in Polokwane lewer nie.

“Daar is ’n gebrek aan behoorlike politieke leierskap by Mathabatha.”

Mathabatha is in Julie 2013 as premier van Limpopo aangestel nadat die provinsie se geldsake in die rooi was en Cassel Mathale as premier bedank het.

Mathale is steeds ’n ANC-lid in die parlement.

Smalle sê dit is kommerwekkend dat 2,67 miljoen van die sowat 5 miljoen inwoners van Limpopo werkloos is.

Hy lê die skuld vir swak dienslewering in Limpopo voor Mathabatha se deur.

“Daar is ’n yslike probleem omdat mense nie toegang tot skoon drinkwater het nie,” sê Smalle.

Daar is ’n yslike probleem omdat mense nie toegang tot skoon drinkwater het nie.

Intussen gaan dit sleg by munisipaliteite omdat daar ’n tekort aan behoorlike hulpbronne is en daar nie genoeg kundige mense in sleutelposte aangestel word nie.

Jossey Buthane, EFF-lid van die Limpopo-wetgewer, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Polly Boshielo, speaker van die wetgewer, sê Mathabatha sal in sy provinsiale rede terugvoering gee oor hoe dienslewering die afgelope jaar verbeter het. Die provinsie se planne vir die 2018-’19-boekjaar sal ook bekend gemaak word.


Enjoyed this post? Share it!