Dubai-rykes word gesubsidieer deur armes van Suid-Afrika

Die geld wat die omstrede maatskappy Mediosa gemaak het uit armes van Noordwes en die Vrystaat, was bestem om ’n Gupta-hospitaal van ’n miljard rand vir die rykes van Dubai te bou.

Dit blyk uit dokumente in City Press se besit dat R650 van elke betaling per pasiënt wat Mediosa uit lonende kontrakte met dié twee provinsies verdien het, gebruik sou word om die Gupta-familie se Dubai Health City te bou.

Direkteure vlug landuit toe Valke begin naspeur.

Dis nie duidelik hoeveel geld só landuit is nie, maar Mediosa het volgens sy rekords reeds 20 000 pasiënte gesien. Hulle is nie behandel nie, maar net ondersoek en na klinieke verwys. Mediosa se kontrakte is nou in die weegskaal nadat City Press onthul het daar was ongerymdhede met die tenderproses en dat Mediosa vooruit betaal is.

’n Voormalige senior Mediosa-werknemer het dié week aan City Press gesê Mediosa was ’n frontmaatskappy vir die Guptas. Die plan was om ook kontrakte met die ander nege provinsies te sluit.

Hulle sou amptenare, soos die hoof van die gesondheidsdepartement in Noordwes, dr. Thabo Lekalakala, gebruik om dié doel te bereik. Supra Mahumapelo, Noordwes-premier, is ook betrek omdat hy in beheer was van die departement toe ’n kontrak van R180 miljoen aan Mediosa toegeken is.

City Press is in besit van dokumente wat wys dat Mediosa gereken het hy kan amper R1 miljard verdien as hy eers landwyd kontrakte het.
’n Voormalige werknemer van Mediosa sê die maatskappy was op die punt om kontrakte met KwaZulu-Natal en Mpumalanga te onderteken.
Die Valke ondersoek nou Mediosa se kontrak met Noordwes.

Die senior personeellid wat nou saamgewerk het met Inish Merchant en Sundeep Kalsi, Mediosa se direkteure, sê dié twee is vinnig landuit toe die Valke die ondersoek begin het. “Hulle is bang vir die Valke. Merchant is op 14 Februarie weg, die dag toe die Valke die Guptas se huis in Saxonwold deurgesoek het. Kalsi is al in Januarie weg,” sê hy.

“Ek het take vir die Gupta-familie gedoen en gehelp om Mediosa se administrasie en bedrywighede aan die gang te kry. Ek gaan ook nou huis toe. Ek kan nie hier bly as dit duidelik is dinge werk nie uit en almal het gevlug nie.”

Lekalakala, sy vrou, ’n gesinsvriend en dié se vrou het Indië in Maart verlede jaar as gaste van Mediosa se sustermaatskappy, Medanta, besoek – kwansuis om meer te leer oor Mediosa se klinieke. Maar tóé was Noordwes se kontrak van R180 miljoen reeds geteken. Hulle het in die luukse Oberoi Rajvilas-hotel in die Indiese stad Jaipur gebly teen ’n koste van R8 000 per nag vir elke paartjie.

In ’n e-pos in Maart 2017 word die hotelbesprekings van albei die Lekalakalas en hul vriende bevestig. “Die volle rekening sal betaal word deur mnr. Sunil Sachdeva,” lui die e-pos.

Dit laat die vraag ontstaan of Lekalakala die waarheid gepraat het toe hy verlede maand aan die provinsiale gesondheidsdepartement se portefeuljekomitee gesê het die ander egpaar het vir hulself betaal. Lekalakala is op verpligte verlof hangende die Valke se ondersoek. Hy wou nie kommentaar lewer oor die bewerings nie.


Enjoyed this post? Share it!