Due Bottomless Coffee sing pragtig in Afrikaans

Bottomless Coffee moes vir die perfekte dag wag om die video vir hul eerste Afrikaanse liedjie Ek Sal Wag te skiet.

Een van die lede, Lourens Rabé verduidelik: “Ons het Ek Sal Wag begin konseptualiseer rondom die gevoel van winter. Die liedjie was geskryf tydens toer op ’n koue en grys dag in Londen, en ons wou hierdie selfde gevoel vasvang op die video. Ons moes daarom die weervoorspelling dophou siende dit steeds somer was toe ons die video moes skiet. Toe die nodige kouefront uiteindelik op pad was, moes ons alles opsy skuif en dinge vir die maak van die video blitsvinnig reël.”

Volgens Lourens was die weer op die dag self ook maar op en af. Na ’n tydperk van “jakkals trou met wolf se vrou” kon hul net gedeeltelik verfilm as dit bewolk was en moes elke keer stop sodra die son uitgekom het.

“Ons is toe so 18:00 na die Paarl-berg en teen daardie tyd het die wolke behoorlik ingerol. Dit het soos winter in sy volle glorie gevoel. Ons moes albei so paar keer die berg uithardloop om die perfekte materiaal te verfilm. So ’n uur later het dit begin reën en ons was papsopnat – maar dit was alles die moeite werd. Ons is so bly oor hoe die video uitgedraai het,” sê hy

Die liedjie is Bottomless Coffee se heel eerste Afrikaanse radiosnit. Tot nou toe het die duo net in Engels gesing, maar Lourens en Esté Rabé het hul aanhangers vroeër vanjaar verras toe hulle twee Afrikaanse liedjies op hul nuwe 11 snit album Anthelia, wat in Februarie uitgereik is, ingesluit het.

Esté noem dat die liedjie eers in Engels geskryf was en hulle toe besluit het om dit in Afrikaans te vertaal. “Ons was in 2016 in België genooi na ’n braai op ’n woonstel se dak en die gasheer het ons gevra om iets in Afrikaans te sing. Ons het toe nog nie ons eie Afrikaanse liedjies geskryf nie en het Laurika Rauch se Stille Waters vir hulle gesing. Ons het op pad huis toe gesels oor hoe trots ons daarop was om by hierdie geselligheid in ons moedertaal te kon sing. Ons het toe geweet dat ons graag op ons volgende album ook Afrikaanse liedjies wil insluit.”

Die lied self is in Londen tydens dieselfde toer in 2016 geskryf. Esté onthou die dag goed: “Ek en Lourens het verskillende kapasiteite vir inkopies. Ons het op hierdie dag rondgesnuffel in die welbekende Denmark straat in Londen. Nadat ek een keer ’n rondte gedoen het van al die winkels, het ek besluit om vir Lourens in ’n koffie kroegie te gaan wag terwyl hy nog kitare toets en beloer.

Soos ek gaan sit het by die venster toonbank, het ek opgemerk dat daar ’n dame by ’n tafeltjie op die sypaadjie sit. As die venster nie tussen ons was nie, sou ons ongemaklik naby aan mekaar gesit het soos twee vreemdelinge, maar as gevolg van die venster was ons geskei. Dis daar en dan dat ek die inspirasie gekry het vir hierdie liedjie. Vensters groei tussen ons en baie dinge in ons lewens (meestal tussen ons en ons naastes) – wat ons skei van mekaar sonder dat ons dit eers agterkom. Ons is naby aanmekaar, maar ons het ophou kommunikeer. Hierdie liedjie gaan oor die wag vir hierdie vensters om weer te smelt; om te wag vir die persoon se hart om weer na jou terug te keer,” vertel sy.

Loer hier onder na die musiekvideo:- Bottomless Coffee Band – Ek Sal Wag

Enjoyed this post? Share it!