EFF en ANC staan saam teen Hoërskool Overvaal in Vereeniging

Die gebrek aan wesenlike verskil tussen die EF en die ANC het duidelik geblyk uit hulle gesamentlike gewelddadige betoging voor die Hoërskool Overvaal in Vereeniging.

Hulle het gister voor die skool betoog nadat die hof die skool gelyk gegee het dat hy vol is en dus nie geding kan word om Engelstalige leerlinge toe te laat nie.

Die polisie was uiteindelik gedwing om die oproerige ANC en EFF lede met skokgranate en rubberkoeëls uiteen te jaag, en vandag moet privaat veiligheidswagte sorg dat die leerlinge veilig by die skool kan ingaan.

Intussen is dit duidelik dat die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, Afrikaans misbruik as ʼn rookskerm om sy departement se eie onbevoegdheid te verbloem en sodoende rassekonflik veroorsaak, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê Lesufi se tirade teen Afrikaans, asook die Grondwethof se uitspraak teen Afrikaans rakende die Universiteit van die Vrystaat, bewys dat Afrikaans geboelie word, en die VF Plus sê dit het tyd geword dat Afrikaanssprekendes hul stem dik maak en begin terugslaan.

Hy sê die VF Plus het om hierdie rede vandag ʼn strafregtelike klag ingedien teen die onderwysdepartement se streekdirekteur vir Sedibeng-Oos, Criselda Makhubela, na aanleiding van die hofuitspraak in die Hoërskool Overvaal-saak.

“Die klagtes is dwarsboming van die gereg, intimidasie en aanhitsing om meineed te pleeg deurdat Makhubela luidens die hofuitspraak die skoolhoofde van die Engelse hoërskole Phoenix en Jan Smuts geïntimideer het om hul beëdigde verklarings te verander deur te sê die skole het nie plek vir ekstra leerlinge nie terwyl hulle aanvanklik gesê het daar is plek.

“Die ANC en EFF se ontwrigtende en skoorsoekende optrede by die Hoërskool Overvaal is onaanvaarbaar. Die VF Plus wil dit duidelik stel dat elke ouer en individu die grondwetlike reg het om hulself en hul kinders te beskerm.

“Die EFF en die ANC wil van kinders politieke kanonvoer maak en misbruik om verlore aansien te probeer herwin. Die VF Plus is sterk gekant daarteen dat kinders as speelbal vir politieke doeleindes gebruik word.

“Kinders moet beskerm word om in ʼn vreedsame omgewing hul skoolonderrig te ontvang. Die EFF en die ANC ondermyn die opvoeding van leerlinge met hul uitlokkende gedrag en stel ʼn swak voorbeeld oor hoe geskille opgelos moet word.

“Ek doen ʼn beroep op ouers om hul regte met waardigheid te beskerm, maar om nie reg in eie te neem en die slagoffers van kwaadwillige uitlokking te word nie,” sê dr. Groenewald.

Deur: Die Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!