Emfuleni munisipaliteit verloor R700 miljoen van belastingbetalers se geld

Die Emfuleni-munisipaliteit (Vanderbijlpark, Vereeniging en Sebokeng) het in die 2016-’17-boekjaar bykans R770 miljoen van belastingbetalers se geld “verloor”, luidens die ouditeur-generaal se verslag.

Dady Mollo, DA-koukusleier in Emfuleni, het Donderdag gesê DA-raadslede het ’n beroep gedoen op Paul Mashatile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, om in te gryp by die finansiële wanbestuur by Emfuleni.

Mollo sê die DA het ’n e-pos aan Jacob Khawe, ANC-burgemeester, en Dithabe Nkoane, munisipale bestuurder, geskryf en gevra dat hulle aan die raad kom verduidelik waar die geld heen is.

“Ons het geen reaksie gekry nie en daarom vra ons dat Mashatile ingryp.

“Mashatile word betaal om sy werk te doen en hy moet nóú by Emfuleni ingryp. Dit kan nie langer so aangaan nie. Emfuleni is een groot ashoop,” sê Mollo.

Die DA dring ook daarop aan dat Khawe en Nkoane voor Emfuleni se komitee oor munisipale openbare rekeninge verskyn om te verduidelik waarheen die geld is.

“Terwyl Emfuleni sy inwoners faal, het die plaaslike owerheid onlangs salarisverhogings aan sy amptenare toegestaan,” sê Mollo.

Volgens Mollo moet inwoners gereeld inspring om te sorg dat die dorpe (onder meer Vanderbijlpark en Vereeniging) funksioneer. Verlede week was groot dele van Emfuleni, waaronder hospitale en sakeondernemings, sonder krag. Inwoners moes inspring om kragbokse te herstel.

Philip Nothnagel, DA-raadslid, sê ondanks die feit dat Emfuleni ’n ernstige finansiële krisis ervaar, hou senior amptenare nou al twee weke lank ’n bosberaad by ’n gastehuis in Sasolburg terwyl Vereeniging se stadsaal leeg staan.

“Waarom hou hulle dit nie hiér nie?” vra Nothnagel.

Die koste vir dié beraad beloop glo R400 000. “Hoe hulle daarvoor gaan betaal, weet niemand nie.”

Emfuleni-amptenare kan ook nie dienste lewer nie omdat die lisensies van die raad se voertuie verval het. Daar is nie geld om die lisensies te hernu nie.

Nothnagel sê hy ys by die gedagte dat daar iewers ’n groot brand in die plaaslike owerheid uitbreek omdat 75% van Emfuleni se brandweerwaens buite werking is. Daar is nie geld vir herstelwerk nie.

Mollo sê dit is duidelik die ANC kan nie dienste in Emfuleni lewer nie. “Die inwoners verdien beter. Hulle verdien ’n nuwe regering.”

Stanley Gaba, Emfuleni se woordvoerder, sê hy sal later op navrae reageer.

Foto: Jacob Khawe, burgemeester van die Emfuleni-munisipaliteit.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!