Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het vandag besluit om die Pres. M.T. Steyn-standbeeld – wat tans op die Kovsie-kampus geleë is – na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein te verskuif, langs die Vrouemonument. Dít is ook waar Steyn ter ruste gelê is.
Die standbeeld se teenwoordigheid op die kampus strook nie met die universiteit se beginsels van inklusiwiteit en diversiteit nie.
So laat die liberale mense toe dat druk vanuit ander geledere hul doen en late bepaal.
Die eerste standbeeld wat van n kampus verwyder moes word is geëis deur n klomp aggressiewe studente onder leiding van die Malema party by die Universiteit van Kaapstad.
Aanvanklik is taalbeleid by die universiteite aangeval, waarna die klem verskuif het na sogenaamde ewewigtigheid met aanstelling van ‘n rektor, en toe volg die verwydering van blanke standbeelde.
AfriForum Jeug is van mening dat die standbeeld by die oorlogsmuseum die nodige erkenning en respek sal ontvang wat dit toekom en is dankbaar vir die bewaring daarvan, asook dat die Steyn-familie se wense in ag geneem is in die verskuiwings proses.
Die verskuiwing van Steyn se standbeeld laat egter by AfriForum Jeug die vraag ontstaan oor of Afrikanerstudente nog welkom is op die UV-kampus. AfriForum Jeug is van mening dat só ’n besluit kulturele polarisasie op die kampus kan vererger.
Die UV hou voor dat hulle besluit om die standbeeld te skuif gemotiveer word deur ’n inisiatief deur kampusbestuur om ’n “omgeekultuur op kampus te skep waar studente moet omgee vir mekaar se geskiedenis en erfenis”.
“Die werklikheid is egter dat die UV met hierdie skuif ’n presedent skep en juis nie wedersydse erkenning en respek vir verskillende kulture bevorder nie, maar eerder ’n spesifiek geteikende erfenis verwyder,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture.
“Om ’n projek van omgee vir mekaar se geskiedenis en erfenis van stapel te stuur deur ’n groep van jou studente se erfenis vanaf die kampus te verwyder, weerspreek duidelik die bedoeling van só ’n projek en laat die vraag ontstaan of die UV dan net vir sekere studente se erfenis en geskiedenis omgee en nie vir ander s’n nie,” sê Fourie.
Die UV-bestuur probeer dit duidelik maak dat hulle die universiteitsburgerskap wat met só ’n omgeekultuur gepaardgaan wil beklemtoon, maar terselfdertyd wys hulle geen begrip vir die vervreemding en uitsluiting wat die verwydering van ’n sekere groep studente se erfenis vanaf die kampus by hierdie studente kan veroorsaak nie.
“AfriForum Jeug is baie bekommerd dat hierdie projek meer omgee vir sekere groepe studente as vir ander en daarom verdeeldheid onder studente kan veroorsaak en nie die jeug sal leer om ten spyte van hulle verskille steeds respek vir mekaar te hê nie,” sluit Fourie af.
Bronne: AfriForum; Die Vryburger