FBI soek vermeende pedofiel wat glo in SA skuil

Die Amerikaanse federale speurdiens, die FBI, bied ’n beloning van $10 000 (R121 697) aan vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van ’n pedofiel en kinderverkragter kan lei. Daar word vermoed dat Barrett Preston Busschau (43) in Suid-Afrika skuil.

Busschau word vir ’n reeks ernstige seksmisdade teenoor meisies so jonk as 10 jaar gesoek en is op die FBI se lys van mees gesoekte oortreders.

Sy beweerde misdade sluit in seksuele penetrasie met ’n vreemde voorwerp, seksuele mishandeling, sodomie en verkragting.

Busschau, wat in 1975 in Johannesburg gebore is, het in 1984 na Amerika verhuis en in 1989 Amerikaanse burgerskap gekry.

Owerhede in die Amerikaanse deelstaat Oregon het hom op 27 Julie 1993 vir die beweerde molestering van vyf meisies tussen die ouderdom van 10 en 15 jaar gearresteer.

Busschau is op borgtog vrygelaat, maar het gevlug en nooit vir sy volgende hofverskyning opgedaag nie. ’n Jurie het op 18 Oktober 1994 ’n lasbrief vir sy in hegtenis neming in die distrikshof in Oregon uitgereik.

Busschau het bruin hare en blou oë. Hy is tussen 1,52 m en 1,8 m lank en het letsels op sy linkerenkel en regter boarm. Hy het ’n tatoeëermerk van ’n groen-en-pers yin en yang-simbool met ’n golwende lyn en twee kolletjies op sy regterenkel.

Die FBI sê Busschau kon moontlik voorheen na Kalifornië of Panama gereis het, maar hulle het rede om te glo dat hy in Suid-Afrika bly.

Enigeen met inligting oor waar Busschau hom mag bevind kan dit op die FBI se webtuiste aanmeld.

Foto: Barrett Preston Busschau word deur die FBI gesoek.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!