Geen taalbeleid vir aansoeke skep‘resep vir chaos’ by skole

Die Gautengse onderwysdepartement is besig om vele Overvaal-gevalle te skep wat ’n resep vir absolute chaos in die provinsie se onderwys is.

So sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), oor die Gautengse onderwysdepartement se besluit dat skole se taalbeleid geen rol sal speel in die aansoekproses vir leerlinge wat volgende jaar gr. 1 of gr. 8 toe gaan nie.

Deacon sê Fedsas sal beslis stappe teen die Gautengse onderwysdepartement doen as hy sou voortgaan met sy plan.

“Hulle kan hulle ook gereed maak vir sterk reaksie van ouers en skoolbeheerliggame,” sê Deacon.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Donderdag by die bekendstelling van die aanlynaansoekstelsel vir 2019 gesê skoolomgewings se demografie verander.

“Ouers moet dus aansoek doen by die naaste skool aan hul huis of werkplek. Dit maak nie saak wat die naaste skool se taalbeleid is nie,” het Lesufi gesê.

Volgens hom sal die departement dan verseker dat die betrokke skool se taalbeleid verander as die behoefte beduidend genoeg is.

“As genoeg leerlinge aansoek doen by ’n skool wat nie hul moedertaal aanbied nie, sal ons die beheerliggaam kontak, die nodige prosesse volg en verseker dat die taalbeleid verander. As genoeg leerlinge nie aansoek doen nie, sal ons hul ouers kontak en ’n ander skool voorstel.”

Daar was vroeër vanjaar groot omstredenheid en grootskaalse betogings by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging nadat die Gautengse onderwysdepartement die skool beveel het om Engelse leerlinge in te neem.

Deacon sê al wat Lesufi doen, is om spanning vir die skoolbeheerliggame te veroorsaak nog voordat iets konkreets op die tafel is.

“Nou moedig hy ouers aan om by die naaste skool, ongeag die skool se taalbeleid, aansoek te doen. Daar word dan verwagtinge geskep wat druk op die skole uitoefen.”

Deacon sê daar is egter genoeg data beskikbaar om nou al te bepaal hoe die demografie in ’n gebied verander het.

“Skole se taalbeleid kan dus nou al hersien word, waar nodig, sonder om ouers van voornemende leerlinge aan te moedig om druk op die skool te plaas. Hy skep verskeie Overvaal-gevalle.”

Matakanye Matakanya, hoofsekretaris van die National Association of School Governing Bodies, sê Lesufi se idee strook met die Grondwet.

“Dit is so dat daar nie iets moet wees soos skole waar net ’n spesifieke ras- of taalgroep welkom is nie. Ons skole moet oop wees vir almal.”

Matakanya sê wel die onderwysdepartement sal in gedagte moet hou dat beheerliggame die mag het om beleid te bepaal.

“Hulle sal die prosesse reg moet volg en skole moet bystaan met die uitdagings wat gepaardgaan met die verandering van ’n skool se taalbeleid.”

Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê hulle moedig Afrikaanse ouers aan om so gou moontlik aansoek te doen.

“Ons is bekommerd dat die departement voorkeur sal gee aan die leerlinge wat eerste aansoek gedoen het. Die departement kan dan sê verskeie leerlinge wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, het eerste aansoek gedoen.”

Buys sê as ’n skool plek het en die regte prosedure gevolg is, behoort ’n skool aanpasbaar te wees en sy taalbeleid te hersien om soveel moontlik leerlinge in te neem.

“Daar is op plekke bewyse dat daar genoeg Afrikaanse leerlinge in ’n skoolomgewing woon, maar skole word dan gedwing om Engelse leerlinge ook in te neem. Wat van die Afrikaanse leerlinge wat dan nie plek kry nie?”

Lesufi het onderneem om die regte prosedure te volg en dat sy besluit bloot is om te bewys dat daar ’n behoefte aan verandering in ’n skoolomgewing is.

Hoe werk die aanlynaansoekstelsel vir 2019?

Die aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerlinge word op 16 April om 08:00 oopgestel en op 28 Mei om middernag gesluit.

Leerlinge sal van 18 Julie tot 28 September geplaas word. Dit is om die departement genoeg tyd te gee om die nodige hulpbronne aan skole te verskaf.

Ouers kan www.gdeadmissions.gov.za besoek om die aansoekproses te voltooi.

Volgens Lesufi is die stelsel verbeter en ouers sal die aansoek nou vinniger kan voltooi. “Binnelandse sake werk saam met ons. Sodra ’n ID-nommer ingetik word, word die res van die inligting outomaties ingevul.”

Ouers mag by hoogstens vyf skole aansoek doen.

Die skool moet naby die leerling se woonadres of die ouer se werkplek wees of waar die sibbe skoolgaan.

Verskeie aansoeksentrums sal in gemeenskapsbiblioteke en geïdentifiseerde skole wees vir diegene wat nie andersins toegang tot ’n rekenaar of die internet het nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!