G’n wolhaarstorie! – 6 gesteelde skape in Tazz geprop

Twee vermeende veediewe is Saterdagaand vasgetrek toe hulle ses gesteelde skape in ’n Toyota Tazz ingedruk het.

Die skape is in die motor se kattebak en op die agterste sitplek gekry.

Die polisie in Cathcart, ’n klein dorpie tussen Queenstown en Stutterheim in die Oos-Kaap, het tussen die plase in die omgewing gepatrolleer toe hulle op die volgepakte voertuig afgekom het.

Kapt. Namhla Mdleleni, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die skape is aan hul eienaar terugbesorg.

Die verdagtes het Maandag op aanklagte van veediefstal in die landdroshof in Cathcart verskyn.


Enjoyed this post? Share it!