’n Goudveldse polisiekaptein verbonde aan die blitspatrollie, Daniel May, het Vrydagoggend op aanklag van veediefstal in die landdroshof op Odendaalsrus verskyn.
Kapt. Stephen Thakeng, ’n polisiewoordvoerder, sê twee lede van die veediefstaleenheid, ao. Francois Odendaal en ao. Coen de Beer, het Woensdag inligting opgevolg oor ’n veediefstal vroeër die dag op die plaas Welgegund.
Thakeng sê die polisielede het Lotgeval, ’n ander plaas in die omgewing, besoek en op May afgekom waar hy in ’n houtskoolkleurige Mahindra-viertrekvoertuig gesit het.
Daar was ’n sleepwa met 12 skape agteraan die voertuig gehaak en op die bak van die Mahindra was nog twee skape met vasgebinde pote.
Die polisielede het hul kollega uitgevra oor die skape en hy kon nie enige dokumente toon oor hoe hy die vee bekom het nie, sê Thakeng.
Die eienaar van die gesteelde skape is gebel. Hy het die skape as syne uitgeken, waarna May in hegtenis geneem is op aanklag van veediefstal.
Genl.maj. Lerato Molale, klusterhoof van die gebied, het die veediefstaleenheid onder leiding van kapt. David Malete gelukgewens met hul goeie speurwerk.
May bly aanhouding en sal volgende week om borgtog aansoek doen.