Grondonteiening sonder vergoeding – Onteiening van geld en motors is fopnuus

Dit is “fopnuus” dat daar ook op persoonlike besittings soos motors, geld in bankrekenings en aftreegeld beslag gelê gaan word in die proses van grondonteiening sonder vergoeding, het Vincent Smith, medevoorsitter van die gesamentlike komitee oor grondwethersiening, Vrydag gesê.

Smith het gesê die komitee het bewus geword van ’n Afrikaanse SMS van “vreesaanjaers” wat die ronde doen.

In die SMS word glo beweer “dat die bestuur van ’n landbou-unie in Muldersdrift by ’n onlangse vergadering vir mense vertel het dat die bedoeling met die hersiening van die Grondwet is om alles te onteien wat hulle besit”.

“Dit het voertuie, wapens, geld in bankrekeninge en natuurlik jou aftreegeld ingesluit. Die SMS vergelyk ook die huidige proses met die Zimbabwiese situasie waar hulle beweer burgers ’n kort tyd gegun is om hul grond te ontruim,” het Smith gesê terwyl hy Suid-Afrikaners teen sulke “fopnuus” gewaarsku het.

“Dit is beslis nie die bedoeling van die parlement nie. Die huidige mandaat deur die Nasionale Vergadering is slegs om art. 25 en ander afdelings van die Grondwet te hersien waar dit nodig is om dit moontlik te maak vir die regering om grond in openbare belang te onteien, sowel as om die nodige grondwetlike wysigings, waar toepaslik, voor te stel.”

Volgens Smith het die komitee Donderdag by die parlement vergader om sy program vir die proses van openbare deelname te aanvaar.

Ons wil nie enige persoon se persoonlike items soos voertuie of geld vat nie. Dit is nie die doel van hierdie proses nie.

Daar is ook besluit om die sluitingsdatum vir geskrewe voorleggings tot 15 Junie 2018 te verleng en om openbare vergaderings van 26 Junie tot 6 Augustus in alle provinsies te hou.

“Provinsies met groot landelike gebiede sal vier dae vir die vergaderings gegun word, terwyl ander drie dae sal kry.”

Lewis Nzimande, medevoorsitter van die komitee, het ook ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om hulle daarvan te weerhou om afbreuk aan die komitee se werk te probeer doen. Hy het gesê as die betrokke SMS inderdaad van die bestuur van ’n landbou-unie kom, “dan is ons uiters bekommerd oor die boodskap wat dele van die landbousektor uitstuur”.

“Ons wil nie enige persoon se persoonlike items soos voertuie of geld vat nie. Dit is nie die doel van hierdie proses nie.”

Nzimande het die versekering gegee dat almal se voorleggings voor die komitee in ag geneem sal word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!