Guptas en lakeie se kierangs begin braai

Die Valke het ’n lasbrief bekom vir die inhegtenisneming van ­Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne.

Bronne in die Valke, die polisie en ander wetstoepassingsafdelings het aan City Press bevestig Zwane kan binnekort in boeie wees.

Zwane was die Vrystaatse LUR vir landbou toe die berugte Vrede-suiwelprojek begin is.

Rapport het verlede week berig die batebeslagleggingseenheid het op die plaas en die bates van talle maatskappye met Gupta-bande toegeslaan wat die projek met meer as R200 miljoen gemelk het.

Ander mense vir wie lasbriewe uitgereik is, is Peter Thabethe, Zwane se destydse departementshoof, en “minstens twee Gupta-broers”.

Die strop trek nou al hoe nouer om die Gupta-familie. City Press berig die Valke ondersoek minstens sewe sake in ‘n “gevorderde stadium” teen lede van dié berugte familie en hul lakeie. Dit sluit glo ‘n ondersoek in na Atul Gupta se beweerde aanbod van ministeriële poste aan die voormalige minister van finansies, Mcebisi Jonas, en voormalige ANC-LP Vytjie Mentor, asook Gupta-kontrakte by staatsbeheerde ondernemings insluitend Eskom en Transnet ter waarde van multimiljard rande.

‘n Bron het Saterdag aan City Press gesê: “Ondersoeke na entiteite onder staatskapingbewerings is in ‘n gevorderde stadium.”

In hofstukke van die batebeslagleggingseenheid sê ondersoekers die geld is regstreeks uit die melkplaas se rekening na onder meer ’n bankrekening van Atul Gupta oorgedra.

’n Senior wetstoepassingsbron sê: “Die inhegtenisnemings is ’n gegewe. Dit is net ’n kwessie van wanneer dit uitgevoer gaan word.”

Nog ’n senior bron sê die staatskapingsondersoeke is in ’n gevorderde stadium.

“Minstens sewe mense sal teen Junie vervolg word en die Vrede-vervolgings kom in die volgende week of so.”

Die Valke het hul skietgoed gereed gekry deur die afgelope week klopjagte uit te voer op die Vrystaatse premier se kantoor, en die Vrede-plaas te besoek.

Rapport verneem die Valke het op skootrekenaars, hardeskywe en ’n kopie van die rekenaarbediener in die premier se kantoor beslag gelê.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is al nege jaar lank in dié kantoor.

’n Bron sê die Valke probeer nog vasstel of Magashule regstreeks betrokke was by die Vrede-skandaal.

“Hulle het ’n spieëlbeeld van die rekenaarbediener in die premier se kantoor gemaak in die hoop om iets te vind. Hulle het egter alles wat hulle nodig het vir die ander se vervolgings.”

Die Valke hoef nie staat te maak op die sogenaamde #GuptaLeaks nie, sê die bron. “Gelekte dokumente is nie deel van die saak nie. Dit help nie in hofsake nie. Ons het ons eie bewyse.”

Nog ’n bron ná aan die polisie sê Magashule is vir eers nie ’n teiken nie, maar die dokumente wat gewoonlik in die premier se kantoor as sleutelpunt van die provinsiale regering behoort te wees wel.

Die Valke het gister verklarings by die begunstigdes van die suiwelprojek afgeneem.

Tientalle lede van die gemeenskap het by die polisiekantoor saamgedrom om hul storie te vertel.

Matebesi Sibiloane (55) sê die Valke het gevra wie aan hom beloof het dat hy voordeel uit die plaas sou trek en hoeveel werk en geld hy uiteindelik uit die plaas gekry het.

“Ek het hulle gesê dit was Mosebenzi Zwane. Ek het ook gesê dat ek nie werk of geld van die plaas gekry het nie, al het ek 35 jaar se ervaring op ’n melkplaas en sou ek maklik kon bydra tot die boerdery.”

Bafana Mbuli (29) sê hy het reeds in 2015 lont geruik toe Zwane gesê het koeie word van Indië ingevoer om op die plaas te wei. “Ons voel die regering het ons in die steek gelaat. Hulle het geld gesteel van die arm mense wat hulle veronderstel is om by te staan,” sê hy.

Boghami Khubheka (40) het aan Rapport gesê die polisie was reeds vroeër op die plaas om die koeie te tel en die gereedskap te bekyk.

By Rapport se besoek aan die plaas verlede jaar het geroeste gereedskap onder afdakke gestaan en brandmaer koeie in die veld gebulk om gemelk te word.

’n Veiligheidswag by die plaas se hek het gister aan Deon Raath gesê nege voertuie, waaronder ’n polisievoertuig, het die afgelope week by die plaas opgedaag.

Mense in polisieuniform is glo dadelik na die kantoor op die plaas.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het aan Johan Eybers gesê die eenheid het nie ’n klopjag uitgevoer nie, maar wel Saterdag onderhoude met lede van die gemeenskap gevoer.

In hofstukke van die batebeslagleggingseenheid sê die ondersoekers Zwane het self die ligging van die projek in 2013 uitgekies omdat dit in ’n landelike gebied is “wat nie maklik opgespoor sou word nie”.

Volgens dié eenheid was die projek niks anders nie as ’n kwalik bedekte skema waar korruptes die staatskas gemelk het.

Zwane het Vrydag in ’n onderhoud met eNCA gesê: “Onthou, ’n mens is nie skuldig voordat jy in ’n hof skuldig bevind is nie.”

Van die ander sake wat die Valke ondersoek, is dat Atul Gupta glo ministersposte aangebied het aan Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, en Vytjie Mentor, oud-ANC-LP.

Bronne bevestig die Valke het die afgelope week ’n lasbrief bekom om beeldmateriaal van die Hyatt-hotel in Rosebank, Johannesburg, te bekom waar van die beweerde misdade gepleeg is. Ander “gevorderde” ondersoeke sluit in die Transnet-kontrakte vir lokomotiewe waar die Guptas glo R5,3 miljard geskep het uit omkoopgeld, die stroping van Denel en die Guptas se steenkoolkontrakte met Eskom.

* Intussen heers chaotiese toestande by die Guptas se Optimum-steenkoolmyn, waar werkers nie die afgelope week betaal is nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!