Guptas se straler word deur belastingbetalers onderhou

Terwyl die gevegte om die Gupta-familie se bates in verskillende howe in die land voortwoed, kos dit die belastingbetaler reeds ’n geraamde R200 000 per maand om die Guptas se gekonfiskeerde straalvliegtuig in stand te hou.

Die luukse vliegtuig, wat verlede maand na Suid-Afrika gebring is, staan in ’n loods by ExecuJet op die Lanseria-lughawe. Dit moet maandeliks onderhou word sodat dit diensbaar bly. Boonop moet daar versekering wees vir enige gebeurlikheid terwyl die vliegtuig onbepaald daar geberg word.

Dit is nie duidelik of die oorspronklike finansiers, Export Development Canada (EDC), of StoneRiver, die Guptas se Ierse maatskappy wat geskep is om die finansiering te fasiliteer, die versekering betaal nie. EDC wou nie op navrae reageer totdat die hofsake afgehandel is nie.

Intussen het die kurator, wat deur die batebeslagleggingseenheid aangestel is, die tydelike eienaarskap van die vliegtuig oorgeneem, sê adv. Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Eugene Nel, ’n prokureur van KwaZulu-Natal, is die kurator, en moet ook toesig hou oor die bates wat vroeër in die Estina-suiwelplaassaak by Vrede in die Vrystaat in beslag geneem is. Dit beteken Nel het nou toesig oor Gupta-bates van ’n geraamde R180 miljoen.

Dit sluit die Bombardier-straler (ZS-OAK) en ’n Cessna-straler in.

Nel het nie op navrae gereageer nie.

Volgens lugvaartkenners op Lanseria, wat anoniem wil bly, beloop net die bergkoste vir die vliegtuig waarskynlik R65 000 per maand. Om die vliegtuig in stand te hou sodat dit nie waarde verloor nie, moet dit maandeliks uitgesleep, brandstof ingetap en die enjins aangeskakel word. Daarna moet orige brandstof uitgetap word voordat dit geberg word.

ExecuJet het nie op navrae oor dié onkoste gereageer nie.

Die staat se bewaringsbevel op verskeie Gupta-verwante maatskappye se bates, waaronder vliegtuie, sportmotors en eiendomme, het intussen in die hooggeregshof in Bloemfontein begin wankel.

Atul Gupta was in Maart suksesvol om R10 miljoen in sy bankrekening, wat deur die bewaringsbevel bevries is, te laat ontvries omdat die staat nie genoegsame be­wyse kon lewer dat dié geld met die Estina-plaas verbind word nie.

Vrydag het die streekhof in Bloemfontein ’n reisverbod op
Varun Gupta, ’n broerskind van die Guptas, opgehef sodat hy ’n godsdienstige geleentheid in Indië kon gaan bywoon. Varun, voormalige uitvoerende hoof van Oakbay Resources, is in Februarie saam met ander Gupta-helpers en beamptes in die Vrystaatse departement van landbou weens die Estina-skandaal in hegtenis geneem. Hy is kragtens streng voorwaardes op R200 000-borgtog vrygelaat.

Die staat het in Varun se reisaansoek toegegee hy kan dalk nie regstreeks met die skandaal verbind word nie. Landdros Jan Greyvenstein het gesê Varun moet op 26 Mei terug wees. Hy het sy kommer uitgespreek dat Varun ’n vlugrisiko kan wees, want sy vrou en kinders is lankal terug in Indië.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!