Julius Malema en sy rooi gespuis daag regering uit om grondbesetters te skiet

“Beset die grond! Beset die grond!”Julius Malema, EFF-leier, en sy EFF-kollegas het Woensdag in die Nasionale Vergadering dié refrein gedreunsing en op hul banke gekap voordat hulle aan Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, se opdrag gehoor gegee het en die raadsaal verlaat het.

Malema het in die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se begrotingstoespraak gesê dit lyk asof die ANC onseker is of hy wil voortgaan met grondonteiening sonder vergoeding.

Die ANC het die afgelope naweek op sy grondberaad aangekondig dat hy ’n toetssaak in die konstitusionele hof gaan bring om vas te stel of die Grondwet grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak.

Malema sê dit is duidelik dat Ramaphosa bluf oor grond. “Dit is duidelik dat julle nie grond sonder vergoeding gaan onteien nie. Ek het die EFF opdrag gegee om die besetting van grond af te skaal, want ons wil vir julle tyd gee. Maar aangesien julle nie meer duidelikheid het nie, het ons ons mense gevra om oop grond te beset. Dit is hul grond en die ANC gaan nie gou vir hulle grond gee nie.”

Hy sê Ramaphosa het gewys hy is nie ernstig oor die grondkwessie nie toe hy Maite Nkoana-Mashabane as minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming aangestel het. “Sy weet niks van grond nie! En die helfte van die tyd slaap sy,” het hy onder luide geraas gesê.

“So ons mense moet voortgaan om die grond te beset. Die grond behoort aan ons. As die ANC ons mense wil doodmaak omdat hulle regmatig die grond vat, moet hulle dit doen. Julle het dit in Marikana gedoen. Doen dit met die mense wat hul eie land vat!”

Tsenoli het ná Malema se toespraak gesê toe hy as LP ingehuldig is, het hy ’n plegtige eed afgelê dat hy aan die Grondwet getrou sal wees. Malema se beroep op mense om grond te beset, is strydig met die Grondwet.

Nadat Tsenoli gepraat het, was die gort gaar. LP’s van die EFF het een ná die ander opgespring en herhaal dat hulle grond sal beset.

Deur: netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!