Kleinhoewe aanval in Springs – aanvaller dood en man gewond

’n 55-Jarige man is gewond en ’n vermeende aanvaller dood tydens ’n aanval op ’n kleinhoewe naby Spring Dinsdagoggend.

Die voorval is bevestig deur Kapt. Johannes Ramaphora, woordvoerder van die polisie, hy het gesê die voorval het tussen 01:00 en 02:00 op ʼn kleinhoewe by Ermeloweg in Vischkuil, oorkant Endicott, plaasgevind.

Ramaphora sê: “Daar was drie aanvallers. Hulle het eers die hond vergiftig en toe toegang tot die huis verkry deur ’n deur. Die slagoffers, Org en Martie Landsberg, het wakker geword met die aanvallers langs hul bed. Hulle het die egpaar glo gedreig en goedere geëis.”

Verder verklaar Ramaphora dat die aanvallers Mnr. Landsberg geskiet het. “ Hy het teruggeskiet en twee skote afgevuur. Een verdagte is op die toneel dood.”

Volgens hom het die ander twee aanvallers sonder enige buit te voet van die toneel gevlug. “Die vrou is baie getraumatiseerd. Sy het nie gesien dat hulle met iets vlug nie, maar ons ondersoek dit.”

Die polisie is steeds op soek na die twee ander verdagtes.

Org is ná die aanval na ʼn hospitaal gehaas.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê sover hul wete strek, is Org vermoedelik in die been gewond. Daar word vermoed dat die aanvaller is glo by die voordeur van die huis geskiet.

Volgens Cameron is daar drie honde op die kleinhoewe vergiftig en nie net een nie.

Sake van poging tot huisroof en poging tot moord word ondersoek. In dié stadium word geen aanklagte teen die slagoffer ondersoek nie.


Enjoyed this post? Share it!