Klopjag by Gupta-huis ‘wys Zuma wie is baas’

Die Valke se dramatiese klopjag by die Gupta-familie se woonkompleks in Saxonwold, Johannesburg, is ’n duidelike magsvertoon aan pres. Jacob Zuma dat hy polities nie meer in beheer van Suid-Afrika óf staatsinstellings is nie.

Prof. Erwin Schwella, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, het Woensdagoggend so gesê ná die klopjag die oggend vroeg by onder meer die Gupta-woonkompleks.

Dit gebeur op dieselfde dag as wat die land asem ophou vir Zuma om openlik te reageer op die ANC se amptelike aankondiging Dinsdag om hom te herroep.

Die ANC-koukus in die parlement hou Woensdag ook ’n dringende vergadering en die prosesse waarmee Zuma deur die wetgewer as staatshoof verwyder kan word sou hy nie vrywillig bedank nie, sal waarskynlik hoog op die agenda wees.

Die presidensie het Woensdagoggend ook gerugte ontken dat Zuma omstreeks 10:00 die media sou toespreek oor sy herroeping. Dr. Bongani Ngqulunga, Zuma se woordvoerder, sê hieroor in ’n kort verklaring dat geen amptelike kommunikasie deur die presidensie uitgereik is oor ’n nuuskonferensie vir Woensdag soos verskeie media-instellings berig het nie.

“Die media word versoek om vir die amptelike kennisgewing te wag,” sê Ngqulunga.

Schwella meen egter Woensdagoggend se klopjag by die Guptas is geensins toevallig nie.

Hy glo dit is ’n “goed en bewustelik” beplande strategie deur adj.pres. Cyril Ramaphosa en die nuwe ANC-leiers om aan Zuma te wys wie nou die politieke beheer oor staatsinstellings soos die Valke het.

Schwella meen die druk op Zuma is nou besig om in so ’n mate op te bou dat dit nie meer vir baie lank sal duur nie.

“Dit is ’n baie subtiele, maar sigbare vertoon van mag en maak simbolies ’n baie sterk punt.”

Volgens Schwella sou die Valke nooit so ’n klopjag uitgevoer het as Zuma nog in volle beheer was nie.

“Dit is om aan Zuma te wys dat as hy in die verlede in staat was om grondwetlike instellings soos die Valke te manipuleer en hulle te beperk om hul werk deeglik te kon doen, sal hy dit nie nou meer kan regkry nie.

“Dit is amper asof (Ramaphosa) nou vir Zuma sê: ‘Nou sal ons jou wys (die Valke) sal opdaag en hul werk doen.’ ”

Schwella meen die druk op Zuma is nou besig om in so ’n mate op te bou dat dit nie meer vir baie lank sal duur nie.

“Iets moet ingee en dit gaan tot verskeie ander dramatiese gebeure lei, maar dit sal van korte duur wees,” sê Schwella.


Enjoyed this post? Share it!