Kollege ontaard in ’n oorlogsone toe geboue met petrolbomme bestook is – Maar hulle dring nog steeds aan op gratis onderwys!

Talle dosente en studente leef in vrees nadat die Bethlehem-kampus van die Maluti- Tegniese en Beroepsopleidingskollege (’n TVET-kollege) in ’n oorlogsone ontaard het toe geboue met petrolbomme bestook is.

Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê anargie en ’n chaos het Vrydag op die kampus losgebars toe betogende studente die onmiddellike afdanking van die kollege se hoof, Veli Mabena, geëis het.

Die administrasiekantoor, twee busse en vyf voertuie het uitgebrand nadat dit met petrolbomme aan die brand gesteek is.

Veiligheidswagte en polisiebeamptes het met rubberkoeëls op betogende studente geskiet en hulle van die kampus verjaag.

Volgens Mophiring sal die polisie ’n wakende oog oor die kampus en studente hou totdat die gemoedere bedaar het en die veiligheid van ander studente en personeellede verseker kan word. Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die gemoedere het verlede Maandag op verskeie TVET-kampusse in die Vrystaat opgevlam nadat die bestuur van die kollege nie na studente se griewe wou luister nie.

Die onrus het Vrydag oorgekook toe studente van ander dorpe in Bethlehem saamgedrom het en klasse ontwrig en miljoene rande se brandskade aangerig het.

Die president van die studenteraad, Tshidiso Nhlapo, sê studente het telkens probeer om hul misnoeë oor wanbestuur van die kollege en Mabena se traak-my-nie-agtigheid te kenne te gee.

Vir byna twee maande het verskeie dosente nie vir hul lesings opgedaag nie en talle studente het hulle gederegistreer omdat die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) nog nie beurse uitbetaal het nie.

Talle kampusgeboue en koshuise is vervalle met geen skoon drinkwater of werkende toiletgeriewe nie.

Hy sê hulle eis ook dat 14 studente wat geskors is nadat hulle betoog het, toegelaat word om na hul studie terug te keer.

Andricus van der Westhuizen, DA-LP vir hoër onderwys, sê dit is tyd dat Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, haar werk begin doen en NSFAS-beurse uitbetaal omdat die vertraging die groot oorsaak van gewelddadige betogings op kampusse oor die land heen is.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!