Korrupsie by toetssentrums neem toe – nog ses vas oor beweerde bedrog en korrupsie

Ses mense is in hegtenis geneem by ʼn voertuigtoetssentrum op Donderdag in Mamelodi in die ooste van Pretoria.

Woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), Simon Zwane het gesê die inhegtenisneming van die ses verdagtes, drie vroue en drie mans, hou verband met beweerde bedrog en korrupsie.

Zwane sê “Hulle is vasgetrek toe lede van die RTMC se nasionale teenkorrupsie-eenheid, die Suid-Afrikaanse Polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad en die Gautengse verkeerspolisie ʼn klopjag op dié toetssentrum wat in private besit is, uitgevoer het.”

Volgens Zwane word nog vier verdagtes ondersoek, onder andere die sentrum se bestuursverteenwoordiger. Daar word beweer dat hulle onwettige uitreik van padwaardigheidsertifikate vir voertuie wat nie fisiek by die toetssentrum was nie, gefasiliteer het.

Zwane vertel: “Ander aantygings teen die verdagtes is dat hulle onwettig die identiteitsdokument van een individu gebruik het om verskeie padwaardigheidsertifikate mee uit te reik.”

Zwane het ook genoem dat die betrokke persoon, wat aan die ondersoek beamptes bekend is, na bewering sy toestemming gegee dat hulle van sy ID gebruik kan maak.

Die verdagtes sal op aanklagte van bedrog en korrupsie in die hof verskyn.

Volgens Zwane is die Mamelodi-toetssentrum die vierde sentrum sedert Desember wat ondersoek is weens aantygings van bedrog en korrupsie wat verband hou met die onregmatige uitreiking van padwaardigheidsertifikate.

Hy het gesê 15 verdagtes is by dié sentrums in Clayville, Temba en Sebokeng in hegtenis geneem.

“Onpadwaardige voertuie is ʼn reuserisiko op die paaie. Die RTMC het die stryd teen bedrog en korrupsie by dié sentrums as prioriteit verklaar in ʼn poging om veiligheid op die paaie te verbeter en ongelukke, beserings en sterftes te verminder,” het Zwane gesê.


Enjoyed this post? Share it!