Kroon juweel van PE, Bayworld nou net ‘n verlate dop – kom nou daarvan as EFF aan bewind is van sake!

Die munisipale komitee oor openbare rekeninge (MPAC) sal Dinsdag die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth besoek om “die toestand van verlatenheid te ondersoek,” sê die MPAC-voorsitter, die EFF se Yoliswa Yako.

“Bayworld was eens op ’n tyd die juweel in die kroon van Port Elizabeth, maar lê nou verlate en sonder sy wêreldbekende dolfyne. Dit is regtig hartseer om te sien wat van Bayworld geword het,” het Yako Maandag op ’n mediakonferensie gesê.

Yako sê die MPAC sal ook ’n verslag aanvra oor die voortslepende proses om die oseanarium op te gradeer en alle pogings sal gemaak word om dié poort na die oseaan-ekonomie weer op die voorgrond te plaas. “Bayworld moet opgradeer en tot sy volle glorie herstel word. ’n Bayworld van wêreldgehalte sal wêreldklastoerisme meebring. Ons kan ook wêreldklasopvoeding aan townshipskole, sowel as internasionale skole en navorsingspanne verskaf,” het Yako bygevoeg.

“Saam met wat die res van hierdie pragtige stad bied, kan ’n opgegradeerde Bayworld Nelson Mandelabaai behoorlik op die globale toerismekaart plaas as ’n sleutelbestemming – ’n kusstad wat deur innovasie en uitstekende dienste gedryf word.”

Op die vraag of daar enige planne of begrotings in plek is vir die opgradering, het Yako geantwoord dat sy nie daarop kommentaar kan lewer nie, aangesien dit iets is wat nog deur die direktoraat vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou bespreek en besluit moet word.

Yako het ook gesê ander ondersoeke wat tans deur die MPAC onderneem word, is dié van geskorste munisipale beamptes wat tans by die huis sit, maar nog ’n salaris ontvang, terwyl plaasvervangers ook ’n salaris kry.

Bayworld was eens op ’n tyd die juweel in die kroon van Port Elizabeth.

Yoliswa Yako

“Ons het ’n verslag aangevra met ’n lys name van al die geskorste beamptes, die redes hoekom die situasies nie opgelos word nie en die totale onkoste.”

Volgens Yako is daar ’n rekening van sowat R50 miljoen vir regsfirmas wat nie aan die munisipaliteit verbonde is nie, terwyl hulle hul eie regspan het. Sy sê hoewel almal die reg het om van enige regsfirma gebruik te maak, sal dit onkoste verminder as die munisipaliteit se eie regsdienste gebruik word.

“Die MPAC sal ondersoek instel na presies waarvoor hierdie geld gebruik is, waarom so baie sake na buitemaatskappye geneem is en watter persentasie van hierdie werk aan swart regsfirmas gegee is.”

Die beweerde misbruik van munisipale motors sal ook ondersoek word.

“ ’n Deel van die MPAC se mandaat is om goeie regering, deursigtigheid en verantwoordbaarheid te bevorder rakende die gebruik van munisipale hulpbronne. Die misbruik van munisipale motors het ’n groot impak op dienslewering omdat hierdie motors nie net onbeskikbaar is vir dienslewering nie, maar (die misbruik) ook onnodige onkoste meebring,” het Yako beklemtoon.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!