Lae gemene luis – Pa wat kind van dak gooi, hoef nie borg te betaal

Die man wat sy eenjarige kind van ’n sinkhuis se dak in Port Elizabeth gegooi het, is Maandag op waarskuwing uit aanhouding vrygelaat.

Mthobeki Katali (38) het op 12 April met sy kind op die huis se dak in die informele nedersetting Joe Slovo gestaan in ’n poging om die Nelson Mandelabaai-metro te probeer keer om sy huis te sloop.

’n Metropolisiebeampte wat langs die huis gestaan het, het die kind net betyds gevang nadat Katali haar van die dak af geslinger het. Katali is op die sinkhuis se dak platgeduik en op ’n aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.

’n Groep singende en dansende gemeenskaplede van Joe Slovo het Katali en Vuyokazi, sy vrou, Maandag, buite die landdroshof in New Brighton ingewag.

Katali en Vuyokazi het mekaar omhels en gesoen.

Op die vraag wat presies daardie dag gebeur het, het Katali gesê dat hy nie sy kind van die dak sou afgooi nie, maar volgens hom het dit gelyk asof die sinkhuis se dak wou instort.

Hy beweer hy wou hul dogtertjie aan sy vrou op die grond gee, want hy was bang dat die huis se dak met hom en die kind in sy arms sou inval.

Ná sy eerste hofverskyning verlede week is die aanklag teen Katali van poging tot moord na kindermishandeling verander.

Katali was intussen in aanhouding nadat landdros Shivan Maharaj ’n verslag van ’n maatskaplike werker oor die veiligheid van die kind aangevra het.

Mxolisi Moolman, Katali se regsverteenwoordiger van die regshulpraad, het Maandag ’n gedeelte van die verslag aan die hof voorgelees om Katali se finansiële omstandighede uit te lig en die hof gevra om geen borgtoggeld vas te stel nie, maar hom slegs te waarsku.

Luidens die verslag het die Katali-egpaar vier kinders. Hul hoofinkomste is hul kinders se maatskaplike toelaes, wat altesaam sowat R1 200 beloop. Hulle het voorheen in ’n opslaanhuis in die agterplaas van ’n laekostehuis gewoon, maar hulle is weggejaag nadat hulle nie meer die huur kon betaal nie. Hulle het daarna die sinkhuis in Joe Slovo opgerig.

Maharaj het ingestem om Katali op waarskuwing vry te laat en hom opdrag gegee om hom by die maatskaplike werker in Uitenhage aan te meld om sy kinders te sien.

Hierdie is ’n liefdevolle man, hy is lief vir sy gesin met sy hele hart.

Buite die hof het Vuyokazi gesê die kinders is tans in die sorg van die maatskaplike werker en sy woon by hulle.

Sy het gesê dat hulle alles moontlik sal doen om hul kinders weer in hul sorg terug te kry.

Katali het gesê hy sal intussen by sy ma gaan woon, maar die gemeenskapslede wat hom ondersteun het, het daarop aangedring om vir hom ’n nuwe huis in Joe Slovo te bou.

Lizzie Jantjies, ’n inwoner wat namens die gemeenskap gepraat het, sê hulle sal die Katali-egpaar ook bystaan in hul stryd om hul kinders terug te kry.

“Ons steun die gesin. Eerstens, hy (Katali) het nie die kind mishandel nie, ons wil hê die media moet die punt regstel.

“Hierdie is ’n liefdevolle man, hy is lief vir sy gesin met sy hele hart.

“En as ma’s sal ons nooit iets ondersteun wat nie reg is nie, maar ons ken hulle – hulle is ewe lief vir al vier hul kinders. Daar is nie een vir wie hulle minder lief is nie.

Mthobeki Katali en Vuyokazi, sy vrou, luister na wat die gemeenskapslede van Joe Slovo buite die landdroshof in New Brighton te sê het. Foto: Lulama Zenzile

“Daarom vra en pleit ek by die media, wanneer julle weer beriggewing doen, berig die regte en akkurate storie,” het Jantjies gesê.

’n Versoekskrif met 385 handtekening uit die gemeenskap ter ondersteuning van Katali is by die hof ingehandig.

Jantjies het ook die skuld van die hele voorval voor die deur van Nqaba Bhanga, burgemeesterskomiteelid vir behuising in die Nelson Mandelabaai-metro, gelê.

Verlede jaar was daar ’n lys van mense wat aansoek om huise gedoen het en afgevaardiges sou die lys nagegaan het. Blykbaar het slegs 15 mense op die lys vir huise gekwalifiseer en mense sal hervestig moet word, het Jantjies gesê.

“Daarom het mense onwettig op die grond gaan woon, in ’n poging om in aanmerking vir ’n huis te kom. Wyk 41 (Joe Slovo) se mense wag steeds vir Nqaba Bhanga om geregtigheid te laat geskied,” sê Jantjies.


Enjoyed this post? Share it!