Leë nuwe gebou kos weermag ‘n allemintige R57 miljoen wat 680 mense kan huisves

Die weermag betaal al vir minstens drie jaar maandeliks R1,6 miljoen vir ’n gebou wat sy soldate nog nooit betrek het nie.

Dít kom neer op vrugtelose verkwisting van nagenoeg R57 miljoen van die verdedigingsbegroting wat reeds onder tekorte gebuk gaan.

Nou het die departement van verdediging ’n ondersoek begin om vas te stel wie vir die vermorsing verantwoordelik was, het brig.genl. Mafi Mgobozi, ’n weermagwoordvoerder, gesê.

Dit kan boonop selfs nog jare neem voor die gebou in Eco Park, Centurion, gereed gaan wees vir benutting. Volgens Mgobozi moet daar nog bepaalde installerings plaasvind. Die kontrak om die veiligheid van die gebou op peil te kry, is ook vertraag.

Die leë gebou is groot genoeg om 680 mense te huisves.

Volgens Mgobozi strek die aanloop tot die langtermynhuur van die Eco Park-gebou terug tot in 2012. ’n Sinkgat het toe reg langs die bevelvoerende generaal van gesamentlike operasies se kantoor in Swartkoppark (“Speskop”) tussen Valhalla en Laudium ingeval.

Die departement van openbare werke (DOW) het ’n dolomiet-ondersoek na dié terrein gedoen en bevind dat daar tóé al ’n “dreigende situasie” vir dié gebou se werknemers bestaan het.

Sinkgat maak ou gebou gevaarlik.

Tog werk die weermagpersoneel steeds daar, al het die DOW aanbeveel dat die gedoemde gebou ontruim en ’n ander een gehuur moes word.

Volgens Mgobozi het die DOW in opdrag van die weermag per tender die nuwe gebou – Eco Origin in Eco Park – gehuur.

Okkie Hollenbach van M&T Development, wat dié gebou se verhurings hanteer, het by navraag gesê die gebou is ingevolge tenderbehoeftes ingerig en vir gebruik oorhandig.

Rapport verneem van hooggeplaaste offisiere dat daar intussen interne verskille was oor die trek en veral oor die geskiktheid van die nuwe gebou se ligging.

Volgens een senior offisier is daar destyds nooit bepaal of die

Centurion-gebou aan behoeftes voldoen nie. Nadat die omvang van die vrugtelose verkwisting op die lappe gekom het, is die saak glo na ’n “hoër gesag” verwys.

Met die onlangse swaar reën in Gauteng het twee reuse-sinkgate nie ver van Swartkoppark nie ingeval. Die tweede een op die R55 by Laudium het tot die gedeeltelike sluiting van dié pad gelei.

Volgens Mgobozi is die verskuiwing na die nuwe gebou ’n gegewe. Dit is net nie duidelik wanneer dit gaan gebeur nie.


Enjoyed this post? Share it!