Lugdiens SA Express mag nie vlieg oor ernstige gevalle van veiligheidsvereistes wat nie nagekom word

Die lugdiens SA Express se vloot vliegtuie is gehok omdat ’n oudit deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) bevind het dat die instandhouding van hul vliegtuie nie op standaard is nie, en dat dit ernstige veiligheidsrisiko’s inhou.

Luidens ’n verklaring wat die BLO Donderdagmiddag uitgereik het, is daar “ernstige gevalle van veiligheidsvereistes wat nie nagekom is nie”.

Talle van die lugdiens se lugvaartbedryf-sertifikate is opgeskort, asook ander sertifikate en lisensies.

“Die BLO maak nie die besonderhede van die oudit bekend nie, maar 17 bevindings is gemaak waarvan vyf ten opsigte van vlak 1 in burgerlugvaartterme is.”

Die BLO is bewus van die ongerief vir passasiers wat ’n uitvloeisel van die optrede is, maar die optrede is nodig.

Poppy Khoza, direkteur van die BLO.

Luidens die verklaring is ’n vlak 1-bevinding ’n geval van ernstige nienakoming of versuim wat ernstige veiligheidsrisiko’s vir die publiek kan inhou.

“Sulke oortredings noodsaak die onmiddellike ingryping deur die relevante owerheid.

“Die lugdiens het nie die operasionele vereistes en sy verpligtinge rakende veiligheid nagekom nie. Daarom was die hok van die vliegtuie onafwendbaar, juis omdat die stelsel vir veiligheidsbestuur van die lugdiens gebrekkig is,” lui die verklaring.

Poppy Khoza, direkteur van die BLO, het in die verklaring gesê omdat die BLO vir lugvaartveiligheid in die land verantwoordelik is, kan hulle nie die lugdiens van die vereistes kwytskeld nie. “Ons kan ons nie blind hou waar daar duidelike bewyse is dat die nodige veiligheidsmaatreëls nie nagekom word nie, en waar die lewe van die personeel en passasiers in gevaar gestel word.

“Die BLO is bewus van die ongerief vir passasiers wat ’n uitvloeisel van die optrede is, maar die optrede is nodig.

“As beheerliggaam doen ons ’n beroep op alle operateurs en lisensiehouers om hulle by die streng veiligheidsvereistes te hou. Dit is verpligtend en kan nie bloot as ’n nagedagte beskou word nie, sê Khoza.

SA Express neem hom voor om sy klante so ver moontlik by te staan en om hulle op die hoogte te hou van die stand van sake.

Matsietsi Mokholo, waarnemende uitvoerende hoof van SA Express.

Matsietsi Mokholo, waarnemende uitvoerende hoof van SA Express, sê veiligheid bly die lugdiens se topprioriteit.

“Ons passasiers se veiligheid bly ons topprioriteit en ons veiligheidsrekord van die afgelope 24 jaar wys dit. Ons sal met die BLO saamwerk om die probleme op te los.”

SA Express sê passasiers wat reeds kaartjies gekoop het, sal op ander lugdienste geakkommodeer word, of hulle sal terugbetaal word.

Mense met kaartjies was egter teen Donderdagmiddag reeds gestrand.

“SA Express neem hom voor om sy klante so ver moontlik by te staan en om hulle op die hoogte te hou van die stand van sake,” sê Mokholo.

In SA Express se verklaring word gemeld dat die BLO-oudit met die herstrukturering van die lugdiens gepaard gaan en dat die bestuur, wat die afgelope 12 maande groot veranderings ondergaan het, met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in dié proses sal saamwerk.


Enjoyed this post? Share it!