LUR van Vrystaat in hegtenis op aanklagte van korrupsie en bedrog

Die Valke het laat Donderdagaand ’n Vrystaatse LUR op aanklagte van korrupsie en bedrog in hegtenis geneem.

Kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke, sê die LUR wie se naam nog nie bekend gemaak kan word nie, sal Vrydag in die streekhof in Bloemfontein verskyn.

Dit is die tweede opspraakwekkende saak wat die Valke vandeesweek na dié hof bring.

Donderdag het agt mense in dié hof verskyn nadat hulle ook deur die Valke in hegtenis geneem is. Hul gesamentlike borgtog beloop meer as R800 000.

Daardie saak hou verband met die Vrede-suiwelprojek waarby meer as R250 miljoen betrokke is.

’n Beloning van R100 000 is intussen uitgeloof vir enigiemand wat die voortvlugtige Ajay Gupta kan opspoor.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê hy vermoed hy weet wie is die Vrystaatse LUR, wat Donderdag ná 22:00 in hegtenis geneem is.

“Ek het ook ’n vermoede waaroor dit dié keer mag gaan.”

Jankielsohn sê hy sal 09:00 by die hof wees om te gaan kyk wie dit is en sal daarna kommentaar kan lewer.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!