Massiewe polisie klopjag ná brutale plaasaanval buite Kimberley

Piet Els (86) en Rikkie Alsemgeest (66), bekende Kimberliete en sakemense, is Woensdag in die vroeë oggendure op Els se plaas aangerand en met ’n strykyster gebrand om toegang tot die kluis te kry.

Só het Alsemgeest in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Gariep gesê.

Hulle is op Els se plaas net buite Kimberley aangeval.

Albei het veelvuldige beserings opgedoen, met Els wat ook kopbeserings opgedoen het. Hulle is in ’n stabiele toestand.

Hulle is ook geskop, geklap en met ’n pyp geslaan, en van Els se toonnaels is uitgetrek.

“Dit voel alles nog so onwerklik,” het Alsemgeest met ’n sug gesê.

“Dit was omstreeks 02:00 toe ons hoor hoe die inbrekers die kombuis- en houtdeur in die gang oopbreek.

“Die mans, wat gewapen was, eis toe vuurwapens, geld en diamante.”

Die paar is na die kamer gesleep waar die kluis is.

“Piet was so geskok. Hy het nie sy bril opgehad nie en kon nie mooi sien nie. Hy kon nie die kluis se knop met die kode oopdraai nie. Elke keer as die knop vasgehaak het, het hulle hom wreed geslaan en geskop.

Massiewe polisie klopjag ná brutale plaasaanval buite Kimberley

“Toe stel ek voor dat hulle eerder die kluis met ’n hoekslyper oopsny. Hulle het die werkwinkel oopgebreek om dit en ’n koevoet te gaan haal. Dit het lank geneem om die kluis oop te sny.

“Hulle het my nagklere afgepluk, maar ek is nie verkrag nie. Ek is agter op my kop en op die been met ’n strykyster gebrand en Piet op sy kuit.

“Piet was so swak, hy het net bly lê. Tog het hulle hom vasgebind. Ek is met my hande agter my rug op die stoel vasgebind en my kop is met ’n gordel aan die stoel vasgemaak.”

Die ingang na Piet Els se plaas waar hy en Rikkie Alsemgeest wreed aangeval en aangerand is.Foto: Charné Kemp

Volgens haar seun Niel is dit onduidelik hoe die aanvallers aanvanklik die kragtoevoer afgeskakel het, maar weer aangeskakel het om die hoekslyper en die strykyster te gebruik.

“Dit is ook nie duidelik of die werkers enigiets kon hoor nie. Die kluis is aan twee kante gesny. Hulle het ook met geld uit my ma se handsak weggekom.

“My ma het haarself losgemaak en alarm gemaak. Die huishulp het ingekom en die polisie is ontbied.”

Dit lyk of die aanvallers na Johannesburg gery het, sê hy.

Els besit talle eiendomme en Alsemgeest besit Kimberley Clothing.

Kapt. Sergio Kock, ’n polisiewoordvoerder, sê vier onbekende aanvallers het die slapende paartjie in die huis oorval.

“Die verdagtes het na bewering met aansienlik waardevolle besittings, ’n jaggeweer en ’n wit Mercedes-Benz-voertuig gevlug. Die voertuig is later op die R31-pad naby Phutanang, Kimberley, opgespoor.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!