Minister, gaan nie vir komitee wag oor grond en wil sommer dadelik begin om grond te vat

Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, het aangekondig dat sy nie gaan wag vir die grondwetlike hersieningskomitee se verslag in Augustus voordat sy met grondonteiening gaan begin nie.

Die hersieningskomitee beplan om sy werksaamhede in mei te begin, maar die minister sê art. 25 van die land se grondwet gee haar reeds genoeg beweegruimte om te kan begin met onteiening.

Die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sê die minister is nuut in haar pos en sy sal vind dat dit onnodig is om grond te onteien aangesien die staat reeds meer as 4 000 plase in sy besit het wat hy kan gebruik om swart boere te vestig. “Onteiening is ʼn regsproses wat die belastingbetaler baie geld gaan kos en die minister sal geld mors indien sy wil onteien.

“Grond wat die staat sedert 1994 in die grondhervormingsprogram verkry het, asook grond van mislukte projekte om swart boere te vestig, moet eers gebruik word om opkomende swart boere te vestig wat graag ʼn sukses van hul ondernemings wil maak.

“Indien die minister hierdie stappe volg, sal sy agterkom onteiening is totaal onnodig en sal dit die belastingbetalers baie geld spaar,” sê dr. Groenewald.

Foto: Maite Nkoana Mashabane


Enjoyed this post? Share it!