Mislukte Pickvest-beleggingskema is die oorsaak dat Bejaardes katkos nou moet eet

Selfdood, sterftes weens mediese koste wat nie betaal kon word nie, bejaardes wat vir oorlewing kat- en hondekos eet, lewens wat geldelik verwoes is en honderde makelaars wat hul werk en reputasie verloor het.

Dít is van die ontstellende verhale van beleggers in die mislukte Pickvest-beleggingskema.

Die beleggersgroep Highveld Syndication Action Group (HSAG) het Woensdag ’n inligtingsessie met van sy lede (landwyd sowat 7 000) in Bloemfontein gehad.

Dit volg op Dinsdag se mislukte appèlaansoek deur die Bloemfonteinse eiendomsmagnaat Nic Georgiou en sy maatskappye teen die hofbevele wat beleggers in sy mislukte Pickvest-beleggingskema gekry het.

Georgiou se eiendomsindikasiemaatskappye het R4,6 miljard van meer as 18 000 beleggers, meestal pensioentrekkers, ingesamel voordat dit in die moeilikheid beland en in sakeredding geplaas is. Die beleggers van ’n gemiddelde ouerdom van 75 jaar het elk gemiddeld R250 000 belê.

HSAG het in Oktober 2014 met ’n groepsgeding teen die reddingsmaatskappy Ortho-touch, waarvan Georgiou die hoofdirekteur is, en nog 26 respondente begin.

Ek weet van bejaardes wat van rente op hul beleggings vir pensioen afhanklik was, wat nou vir oorlewing kat- en hondekos eet.

‘n Adviseur wat ‘n belegger met die Pickvest-beleggingskema was

Jacques Theron van Theron en Vennote, wat namens die beleggers optree, sê van die 1 200 makelaars wat by die Pickvest-beleggingskema betrokke was, werk net sowat 300 nog in dié beroep. Beleggers het almal anoniem met Netwerk24 gepraat uit vrees dat hulle nie hul beleggingsgeld sal terugkry nie.

’n Adviseur wat ’n belegger in die skema was, sê talle verhoudinge is verwoes.

“Mense wat jare lank ’n pad met hul finansiële adviseurs gestap en hulle vertrou het, het geglo hulle is deur hulle belieg en bedrieg. Nou kom ons agter hulle is net so deur gewetenlose mense bedrieg. Ek kan nie meer selfs eerlike mense vertrou nie,” sê dié adviseur.

Volgens ’n ander belegger is sy bewus van mense wat geldelik geruïneer is. “Ek weet van bejaardes wat van rente op hul beleggings vir pensioen afhanklik was, wat nou vir oorlewing kat- en hondekos eet. Ander is dood, want hulle het nie geld vir hul suurstofsilinders of hul mediese koste gehad nie.”

Volgens Theron is hy bewus van gevalle waar mense hul lewe geneem het. Van die beleggers het uitsluitlik op die rente staatgemaak.

Beleggers het ook vertel hulle ontvang hul rente laat of glad nie meer nie. Die rente het van 12% tot 2% gedaal.

“Dis nie lekker om vir julle te sê daar is geld van julle gesteel nie, maar dis ongelukkig die werklikheid,” het Theron gesê.

Volgens HSAG-bestuurslede en hul prokureur is die volgende stap om die reëlingskema tersyde te stel wat alle sekuriteite van die tafel gevee het en Georgiou en sy mededirekteure van aanspreeklikheid vrywaar.

Daarna sal ’n groepsgeding gesertifiseer word om geld van Georgiou en Ortho-touch te kan terugeis. “Ons sal nou vinnig werk van die proses kan maak. Dit hang net van ’n hofdatum af. Ons gaan Georgiou vir geld dagvaar. Hy sal sy bates moet verkoop indien hy nie kan betaal nie,” sê Theron.

Johan Stander, ’n HSAG-bestuurslid, sê hulle het ’n “buitengewone goeie saak”.

“Die promotor, Pickvest, het die Verbruikersgoedere-wet oortree deur nie die R3,5 miljard oor te betaal vir oordrag van eiendom nie. Dis bedrog.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!