Motoriste wat tussen Senekal en Ficksburg reis, ry op genade

Tussen Senekal en Ficksburg ry mense elke dag oor ’n stuk teerpad wat nog net op genade nie ingeval het nie, sê Lettie Bester van Senekal.

Bester, ’n VF Plus-raadslid, sê ’n boer in die omgewing se damwal het einde Februarie gebreek.

Die massa water is onder die teerpad deur en het die grond onder so erg weggekalwe dat net die bolaag van die teerpad oorgebly het.

Mense wat in die dorp werk of kinders in die skool het, ry elke dag oor die gevaarlike pad. Bester sê die mense het nie veel van ’n keuse nie want andersins sal hulle ’n uur en ’n half langer moet ry om in die dorp te kom.

Die pad staan as die ou Ficksburgpad bekend. Sy sê die skade aan die pad is ongeveer 12 km buite Senekal.

Die erg beskadigde pad buite Senekal kort nadat ’n damwal gebreek het en die water die pad beskadig het. Die pad word nog daagliks deur inwoners gebruik.

Van die inwoners wat die pad elke dag moet gebruik sê hulle is maar benoud om daar te ry en verwag dat dit kan breek.

Die paaiedepartement is bewus van die probleem, maar sê dit is nog te nat om aan die pad te werk. ’n Kontrakteur is reeds aangestel om die pad reg te maak, sê sy.

Sy weet nie hoekom die departement nie net ’n kort ompad gemaak het sodat mense nie oor die stuk pad ry nie.

Bester sê die paaie in dele van die Oos-Vrystaat is in ’n haglike toestand. Tussen Rosendal en Senekal is dit net slaggate waar jy kyk.

Tussen Senekal en Steynsrus wil mense nie meer in die aand ry nie so sleg is die pad en die pad na Arlington lyk ook nie beter nie.

Piet Venter van Marquard sê inwoners van die dorp ry Winburg toe om met die N1 na Bloemfontein te ry maar die pad na Winburg is ook onbegaanbaar.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse paaiedepartement, sê sy sal uitvind of daar enige beplanning is om paaie in die gebied te herstel.


Enjoyed this post? Share it!