Nog bedrog, die keer by Esidimeni ontbloot

Uit getuienis wat in die Esidimeni-arbitrasieverhoor verhoor gelewer is, blyk dit dat nie net growwe nalatigheid nie, maar ook bedrog ʼn groot rol in die tragedie gespeel het.

Uit die getuienis en ondervraging van Gauteng se LUR van finansies, Barbara Creecy, het dit aan die lig gekom dat die departement van gesondheid gedurende die 2016/17-finansiële jaar, oor ʼn tydperk van slegs tien maande, ʼn bedrag van R60 miljoen aan ʼn enkele prokureur betaal het.

Mnr. Philip van Staden van VF Plus, sê dit kom neer op ʼn skokkende R6 miljoen per maand en ʼn enorme R300 000 per dag. “Creecy het nie eers probeer om hierdie uitgawe te regverdig nie.

“In nog ʼn skokkende onthulling is Creecy ook daarop gewys dat R13 miljoen in twaalf weke aan konsultante betaal is vir ‘konsultasiewerk’ by die Chris Baragwanath-hospitaal.

“Precious Angels se besturende direkteur, Ethel Mncube, het vroeër in die verhoor ook getuig dat dié organisasie geen betaling van die departement ontvang het om na die psigiatriese pasiënte om te sien nie. Creecy het egter getuig dat Precious Angels wel ʼn bedrag van R1 miljoen ontvang het.

“Uit bostaande is dit duidelik dat bedrog ʼn groot rol in die Esidimeni-tragedie gespeel het. Dit is skokkend en bloot nog ʼn bewys hoe endemies korrupsie en bedrog onder die ANC-regering op alle vlakke in Suid-Afrika geraak het,” sê Van Staden.

Mnr. Van Staden het verder geëis dat die Gautengse premier, David Makhura, “die eerbare ding moet doen” en bedank as premier aangesien dit nou in die Life Ensedimeni-bemiddelingsverhoor aan die lig gekom het dat hy doelbewus in die Gautengse wetgewer gejok het oor die aangeleentheid.

Van Staden sê Makhura het by herhaling aan lede van die wetgewer gesê hy het nie geweet van die beëindiging van die Esidimeni-kontrakte nie, maar tydens sy getuienis in die huidige bemiddelingsverhoor het hy erken dat hy wel bewus was van die beëindiging van die kontrakte.

“Makhura het nou verantwoordelikheid aanvaar vir die dood van die 144 pasiënte. Hy sal dus vervolg moet word vir sy aandeel in die tragedie.”


Enjoyed this post? Share it!