Nóg ’n Vrystaatse dorp se krane het opgedroog

Harrismith in die Oos-Vrystaat het die soveelste dorp in die provinsie geword wat dae sonder water moet deurmaak.

Die watertoevoer na sommige buurte is van Saterdag laatmiddag gesny en sedert Sondag is die hele dorp sonder water. Wanneer krane weer lopende water gaan hê is nie seker nie.

Daar was aanvanklik nog vanoggend water in die krane, hoewel dit ’n melkerige en gelerige kleur gehad het.

Kedibone Sentle, woordvoerder van die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit, het Sondagmiddag gesê sy sal eers Maandag kommentaar kan lewer.

Dié munisipaliteit word al etlike jare van swak dienslewering beskuldig.

Dit het in die verlede tot betogings gelei. Voorverlede week is gewelddadige betogings teen die burgemeester van die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit in Qwaqwa gehou waartydens ’n protesganger gesterf het. Dit het ook na Harrismith oorgespoel.

Inwoners van Harrismith is in die duister en weet nie wanneer hulle weer water kan verwag nie.

Volgens André Ross, bestuurder van die Rocky Mountain Spur op die dorp, word daar nie behoorlik met inwoners gekommunikeer nie.

“Daar was aanvanklik nog vanoggend water in die krane, hoewel dit ’n melkerige en gelerige kleur gehad het. Dis die eerste keer in ’n lang ruk dat ons ’n waterprobleem op die dorp het,” het hy gesê.

Tanya van Rooyen, ’n moedelose onderwyseres op die dorp, het selfs aan die M-Net-program Carte Blanche geskryf. Sy het verneem die probleem is daaraan te wyte dat die munisipaliteit nie geld het om chemikalieë aan te koop vir die suiwering van die water nie. Daarom is die waterlewering glo gestaak.

“Dis sekerlik nie reg nie. Ons het twee weke gelede groot stakings gehad toe munisipale werkers gesê het hulle het nou genoeg gehad. Hulle ontvang nie hul salaris nie, want die burgemeester bestee die geld aan partytjies. Kan julle ons asseblief kom help?” het sy geskryf.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!