Noord-Kaapse Gariep-kunstefees eindig: Glo ‘te wit en te Afrikaans’

Die gewilde Noord-Kaapse-Gariep  kunstefees wat jaarliks in Kimberley plaasvind loop na 18 jaar tot op ’n einde.

Die verklaring is onlangs deur Bernice, Versluis, uitvoerende feesbestuurder tydens ’n media verklaring bevestig.

Volgens Versluis het die feesdireksie tot ’n besluit gekom om die fees te beëindig weens moeilike ekonomiese en finansiële toestande.

“Namate die land se ekonomie verswak en finansiering al moeiliker geword het om te vind, het die uitdagings om ʼn hoë standaard te handhaaf al moeiliker geword en baie streng fiskale beheer was noodsaaklik,” sê sy in ʼn verklaring.

Alhoewel Versluis nie verder uitgebrei het oor die geldelike welstand van die fees, volg hierdie aankondig kort na ’n raadsvergadering waartydens die burgemeester van Kimberley dreigemente gemaak het om geldelike finansiering van die fees kort te knip.

VF Plus se leier in die Noord-Kaap, Wynand Boshoff het aan Maroela Media gesê dat die burgemeester van die Sol Plaatjie-munisipaliteit in Kimberly ene Mangaliso Matika, die fees op verskeie aangeleenthede as “te wit en te Afrikaans” bestempel.

Volgens Boshof was daar gereelde woordewisselinge tydens raadsvergaderinge wanneer die twee jaarlikse anker feeste in die stad, die Diamonds & Dorings-fees en die Gariep-fees genoem word.  Boshoff staaf dat alhoewel die Gariep-fees ’n wins toon het die EFF en ANC kaders gedreig om ’n stop te sit aan die feeste omrede dit nie inklusief genoeg is nie.

“Die fees doen sy allerbes om inklusief te wees – daar was jaarliks ʼn ongelooflike bydrae tot die gemeenskap. Gratis kaartjies is aan inwoners van die informele nedersetting gegee en die verhoë is oopgestel sodat plaaslike kunstenaars ook geleenthede vir blootstelling kon kry. Die fees was egter prominent Afrikaans, waarskynlik 90%, maar dis omdat die omgewing waarbinne hy funksioneer Afrikaans is.

“Die uitlatings van die burgemeester en die ANC en EFF is ʼn reuseterugslag vir Afrikaans. Die ANC in Kimberley betree ʼn gevaarlike pad om alle mense en instellings wat nie deel van dié organisasie se erfenis is nie, op die kantlyn te plaas,” sê hy.

Boshoff het bevestig dat die Sol Plaatjie-munisipaliteit die jaar nog vir die Gariep Kunstefees begroot het.

Versluis vertel dat die fees in elke opsig inklusief is:  Die Gariepfees is jaarliks deur mense van alle kleure, rasse en tale besoek en geniet. Die feit dat daar iets was vir elkeen en dat die fees tot nasiebou bygedra het, is een van die dinge wat die fees juis so uniek gemaak het. Nou gaan die son oor hierdie juweel van Kimberley sak, maar die organiserende komitee stap inderwaarheid met waardigheid weg van 18 suksesvolle feeste ten spyte van vele uitdagings.”

Die fees is in 2000 deur Theuns Zimmermann, Marius Nagel en Corné Thompson gestig.

Feesgangers kan later vanjaar uitsien na ʼn laaste afskeidskonsert. Vir meer inligting oor dié konsert besoek die fees se amptelike Facebook-blad.

Elizaan De Koker


 

Enjoyed this post? Share it!