Nuwe vlaag transito rooftogte tref die land

‘n Nuwe vlaag transito rooftogte tref die land, maar veral die ekonomiese hartklop, die sentrale deel van Transvaal.

Net soos in die verlede neem die soort rooftogte toe in aanloop na ‘n algemene verkiesing, wat bespiegelinge laat ontstaan dat daar partye is wat nou solank hulle koffers begin volmaak met die oog daarop. Baie min van die gevalle word inderdaad opgelos.

In die jongste geval is ‘n geldwa by Pietersburg beroof.

Net so interessant is dat na sodanige rooftogte gesê word dat ‘n “onbekende bedrag geld” gebuit is, terwyl daar aangeneem kan word dat die vervoerders tog behoort te weet wat en hoeveel hulle vervoer.

Verlede week is daar wel vyf verdagtes aangekeer na ‘n transitorooftog in Boksburg, waartydens hulle ‘n geldwa met plofstof oop geskiet het.

Hulle het reeds in die hof verskyn en bly snaaks genoeg in aanhouding tot hulle volgende verskyning. Hulle staan tereg op aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

In Klerksdorp het twee mans “meer beskaafd” opgetree tydens ‘n rooftog. Hulle het hulle voorgedoen as werknemers van die SBV-veiligheidsmaatskappy wat geld by Nedbank in Klerksdorp moes oplaai. Hulle het weggekom met sowat R3 miljoen. Slegs R50 000 is teruggevind.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!