Omstrede ‘Doom-profeet’ gedoem

Lethebo Rabalago (26), die omstrede “Doom-profeet”, het op Vrydag 9 Februarie in die hof in Mookgophong verskyn.

Rabalago is skuldig bevind op vier klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is ook skuldig bevind op die oortreding van die Landbouwet.

Rabalago is ’n selfverklaarde profeet van die Mount Zion General Assembly (MZGA) kerk in Zebediela. Hy het in 2016 die nuus gehaal toe hy lede van sy kerk met die insekdoder, Doom, gespuit het om, soos hy glo, kanker en MIV te genees. Hy sou glo sodoende ook bose geeste met dié insekdoder verdryf.

Die hofsaal was Vrydag volgepak. Rabalago was in ’n netjiese wit hemp en donkerblou baadjie geklee. Landdros Frans Mahodi het Rabalago tydens die hofverrigtinge streng berispe nadat hy verskeie kere oopmond gesit en kougom kou het.

Chris Marume, staatsaanklaer, het versoek dat Rabaloga skuldig bevind word op al die aanklagte. Marume het ter verster-king van sy saak aangevoer dat die getuies aangedui het dat hulle nie beserings van die insekdoder opgedoen het nie. Rabalago het ook erken dat dit verkeerd was om Doom op sy gemeentelede te gebruik.

Dit het egter aan die lig gekom dat sommige van hulle aan nadelige newe-effekte gely het.

Die departement van gesondheid in Limpopo het in 2016 ’n interdik teen Rabalago gekry om geen Doom of enige ander vorm van insekdoder op enige van sy lidmate of besoekers te spuit nie. Die departement het Rabalago ook aanbeveel vir psigiatriese evaluering, maar hy was nie daarvoor te vinde nie.

Thabiso Teffo, die departement se woordvoerder, het Vrydag gesê hulle is bly oor die uitspraak en dat hulle die voorkoming van sulke wandade verwelkom. Die saak is uitgestel vir vonnisoplegging.


Enjoyed this post? Share it!