‘One bullet, one Boerekind’ – haatklag ingedien

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ’n klag van haatspraak en rassisme by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien ná ’n Facebook-inskrywing wat lui: “Please Zuma give us the guns to defend our democracy ‘one bullet, een Boere kind’.”

Luidens die SAOU se verklaring is die inskrywing gemaak deur een van die mense wat aan die betogings by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging deelgeneem het.

“Hierdie uitspraak lei gewis na verdeeldheid en aanhitsing tot moord en is blatant rassisties,” lui die onderwysersunie se verklaring.

 

haatspraak

Intussen het skoolkinders van buurskole Donderdagoggend in skoolure by ’n massaoptog voor Overvaal aangesluit.

Die optog het voortgegaan, ondanks die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se verbod op betogings by die skool omdat dit teen die kinders se regte indruis.

Overvaal was Donderdag gesluit nadat Motshekga gesê het sy is bekommerd oor die leerlinge se veiligheid en gee toestemming dat die skool sluit, het Chris Klopper van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) vroeër gesê.

Dit het egter nie die honderde betogers van Cosas, Sadou, ANC, MK-veterane, Popcru en BLF, onder leiding van Cosatu, verhoed om ter ondersteuning van “oop deure vir onderrig vir almal” na die skool te stap, waar hulle die leerlinge van Mahareng Secondary School en Lekoa Shandu Secondary Skool in Vanderbijlpark ontmoet het nie.

Sommige kinders het warm, honger en dors op die sypaadjies rondgesit, terwyl ander saam met Cosas in die pad gedans het.

’n Laerskoolkind en haar maatjies het ’n joernalis eenkant geroep en in Engels gevra: “Tannie, gaan hulle ons skiet?” Ander het gesmeek vir ’n sluk water.

Volgens Tseliso Ledimo, hoofsekretaris van Sadou in Gauteng, het al die belanghebbendes hulpbronne gekombineer om die kinders by die optog te kry.

overvaal 2

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het in ’n verklaring gesê: “Die misbruik van leerlinge van nabygeleë skole om aan die optog deel te neem, is onaanvaarbaar aangesien dit rassewrywing skep onder ‘n geslag jong mense in ‘n bedeling waar apartheid lank nie meer bestaan nie.”

Die SAOU sê die situasie het verder ontaard in “ ’n politieke speelveld”.

“Dié onstuimigheid het ’n direkte en negatiewe uitwerking gehad op leerders, nie net by die Hoërskool Overvaal nie, maar op alle leerlinge in die gebied. Die huidige ontwrigtende aksies misken op gewelddadige wyse ook die konstitusionele regte van die leerlinge wat deur hul onderwysers gedwing om deel te neem.”

Klopper sê die unie is besig om ’n klag by die Openbare Beskermer (OB) “teen opvoeders wat deelneem aan optogte ten opsigte van pligsversuim en ongemagtigde verlof” aanhangig te maak en gaan ook die “misbruik van leerlinge se deelname na die Menseregtekommissie verwys”.

Steve Mabona, woordvoerder van Lesufi, sê die Gautengse departement is teleurgesteld met die skoolure wat ontwrig is.

Elijah Mhlanga, woorvoerder van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê die departement se streekskantoor doen ’n opname van onderwysers wat nie by hul onderskeie skole is nie omdat hulle protesoptogte bywoon.

“Dié wat sonder toestemming van die skole wegbly, moet gedissiplineer word.”

Mhlanga kon nie Donderdagmiddag vir kommentaar oor die kinders se deelname aan die optog bereik word nie.

Senior regslui van die MRK het ook die skool Donderdagoggend besoek.

Matthew du Plessis, senior regsverteenwoordiger, sê die kommissie het uitgevind dat Overvaal Donderdag gesluit is, en dat hulle baie bekommerd is oor die uitwerking daarvan op kinders en hul reg tot basiese onderrig.

“Ons het na die skool gekom om die situasie te monitor. Ons sal vergader met skoolbestuur en AfriForum-bestuur om te praat oor wat aan die gang is en die pad vorentoe.”

Die MRK was nie bewus van die ander skole se kinders wat binne skoolure saam betoog nie, en het voorgeneem om dit te ondersoek.

Die betogers het ’n memorandum aan die skool en Gautengse departement van onderwys oorhandig. Adjunk-direkteur-generaal, Vuyani Mpofu, het die memorandum namens Lesufi ontvang, en Hardus Visagie, voorsitter van die beheerraad, namens Overvaal.

Luidens die memorandum moet die Hoërskool Overvaal voor volgende Donderdag die 55 Engelse leerlinge toelaat en hulle die geleentheid gee om in Engels klas te hê, anders ruk die betogers volgende Vrydag weer op voor die skool.

Verder moet die Gautengse departement van onderwys ’n opname doen van skole “soos Overvaal” sodat hulle die “probleem” daar ook kan hanteer, waarop die skare “amandla!” geskree het.

*Betogings en geweld het verlede week by die skool uitgebreek nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het die skool hoef nie 55 bykomende (Engelse) leerlinge in te neem nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!