Ons land het nie geld nie, maar Ace Magashule wil afskeidspartytjie hou op tuisdorp

Die VF Plus eis dat die provinsiale openingsrede van die uittredende Vrystaatse Premier, Ace Magashule wat geskeduleer is om op 20 Februarie in Parys, Vrystaat plaas te vind, uitgestel word.

Die VF Plus is van mening dat die geleentheid wat die belastingbetaler etlike miljoene rand gaan kos, misbruik gaan word as ‘n afskeidspartytjie vir Magashule, sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer.

“Die openingsrede is veronderstel om die rigting aan te dui vir provinsiale departemente vir die komende jaar. Die begrotings en jaarlikse prestasieplanne van departemente word deur die openingsrede toegelig, daarom is dit onaanvaarbaar dat die premier wat beslis binne die volgende maand gaan bedank weens sy voltydse pos as sekretaris-generaal van die ANC, toegelaat word om die provinsiale rede te lewer.

“‘n Verantwoordelike regerende party sou spoedig na die verkiesing van Magashule as sekretaris-generaal in Desember 2017 sy interne prosesse afgehandel het om ‘n nuwe premier vir die Vrystaat te verkies. Dit is onaanvaarbaar dat die ANC se binnegevegte die Vrystaat lamlê en veroorsaak dat belangrike beplanning vir die jaar nie plaasvind nie.

“Die feit dat die openingsrede beplan word om in Magashule se tuisdorp, Parys, plaas te vind, is ‘n aanduiding dat die openingsrede se koste miljoene rand gaan beloop en dat dit eerder ‘n afskeidspartytjie vir hom gaan wees.

“Die VF Plus het ‘n dringende skrywe aan die Speaker van die Vrystaatse wetgewer gerig om te eis dat die openingsrede uitgestel moet word en indien dit voortgaan dat die koste verbonde daaraan tot die uiterste beperk moet word.

“Die Vrystaatse wetgewer moet die voorbeeld van sy nasionale eweknie volg en die openingsrede uitstel tot ‘n nuwe premier verkies is. Die beplande mosie van wantroue in die premier moet uiteraard ook voor die openingsrede dien,” sê Wessels.


Enjoyed this post? Share it!