Onteiening van grond sonder vergoeding – Wat hou dit in vir die Afrikaner en Orania?

Hierdie artikel het in die Maart-uitgawe van “Voorgrond” verskyn. Weens die groot belangstelling in die onderwerp word dit ook op die blog geplaas.

Na die onlangse mosie in die parlement oor onteiening sonder vergoeding is die kat behoorlik in die duiwehok. Uit die aard van die saak is die Orania Beweging bekommerd oor die implikasie van die grondwetsverandering oor so ‘n kardinale mensereg soos die reg op eiendom. Dit is een van die pilare van die Westerse samelewing en ook van enige geordende regstaat. Met ‘n heel ander uitgangspunt, naamlik die Afrika-denke van kollektiewe grondbesit wat deur die leier (in hierdie geval die staat) in trust gehou word en dan volgens behoefte toegeken word, net om weer weggeneem te kan word en wat nooit aan jou behoort nie, is dit seker nie vreemd nie dat ANC, EFF en ander swart-nasionalistiese partye so ‘n mosie steun.

Ons weet nog nie presies wat die verandering van artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, in praktyk sal behels nie. Dit kan strek van die ergste scenario, naamlik ‘n kommunistiese staat wat alle eiendom besit (en wat die EFF se voorkeur is) en ‘n grootskaalse, Zimbabwe-styl verdrywing van boere van hulle plase, en die beste scenario, naamlik dat net enkele onbenutte plase, byvoorbeeld van buitelandse spekulante, onteien gaan word. Ook in die beste scenario is ons as Afrikaners egter weereens slegter af, want selfs al word die veranderde klousule net baie selektief toegepas, sal dit soos ‘n swaard bo almal se koppe hang en gaan dit die reeds sukkelende ekonomie verder verswak. Ook van betekenis in die mosie is die verwysing na “ die wit kolonialistiese setlaar-minderheid wat die grond van die regmatige eienaars gesteel het”, wat vir elke wit Suid-Afrika die stempel van “indringer wat tans nog geduld word” opdruk. Al vind dalk geen radikale onteiening a la Zimbabwe plaas nie, sê die mosie en die grondwetverandering implisiet dat dit legitiem is om witmense van hulle grond te verdryf, want hulle het dit “gesteel”. Selfs Jacob Zuma het ten minste kort nadat hy president geword het die inheemsheid van die Afrikaner beklemtoon, maar nou word ons kort na die bewindsaanvaarding van ʼn nuwe president as “koloniale setlaars” gebrandmerk.

Die vraag op ons ondersteuners se lippe is natuurlik hoe dit Orania raak. Ons het nog geen klinkklare antwoorde nie, want niemand weet nog wat die beoogde grondwetverandering sal behels nie. As alle grond aan die staat behoort, sal dit Orania ook raak, maar dit sou dan ook beteken dat alle tradisionele stamgrond in die voormalige tuislande aan die staat behoort en dit is onwaarskynlik dat die regering hulle kop in so ‘n byenes wil indruk en konfrontasie met tradisionele Zoeloes, Tswanas en Xhosas wil ontketen. Dit sou ook die swart middelklas en hulle grondbesit in die stede raak. Nie eens Zimbabwe het so ‘n stelsel nie, trouens dit is net diep kommunistiese lande soos Noord-Korea en Kuba wat so werk (en selfs Kuba heroorweeg dit) en Suid-Afrika is ten spyte van alle beperkings steeds ‘n mark-ekonomie waarby veral die swart middelklas baat.

Wat meer waarskynlik lyk is dat die regering ‘n vrypas soek om groot plase in blanke besit te onteien om te wys dat hulle iets doen om die “ongelykhede van die verlede reg te stel”. Uit talle uitsprake van ANC- en EFF- politici kan ‘n mens aflei dat dit veral oor “onbenutte of onderbenutte grond” gaan. Dit sal tipies grond wees wat aan groot grondeienaars behoort, wat nie eers op die grond woon nie en dit as belegging gekoop het. Dit is nog steeds ‘n slegte scenario en sal waarskynlik ook nie daar stop nie. As die teiken egter groot, vrugbare grond in veral die noorde van die land is, waar die bevolking saamgedrom is, is ‘n plek soos Orania, met sy klein stukke intensief benutte landbougrond, en groter stukke skaapgrond, en mense wat op of naby hulle grond woon en geen swart volke in die nabyheid nie, redelik veilig van onteiening. Wat onteiening in die geval van Orania verder bemoeilik is die dikwels kollektiewe aard van die eienaarskap deur ‘n korporasie, maatskappy of trust.

Prof. Carel Boshoff, wat die swart kultuur baie goed verstaan het, het al lank terug voorsien wat nou gebeur en daarom betyds ‘n alternatief geskep. Hy het diep oor grond gedink en sy en ander se gedagtes vervat in die boekie “Die Grondvraag is die Grondvraag”. Hy het ook dikwels die aanhaling gebruik: ”Wie se sweet op die grond drup, die se grond is dit” en daarmee ook die volkseie arbeidsbeginsel veral op landbougrond beklemtoon. Anders as in die res van die land is hier geen swart werkers nie wat kan eis dat hulle ‘n deel van die grond moet besit wat hulle al vir jare bewoon en bewerk. Alhoewel net ‘n minderheid mense, swart en wit, self op hulle eie stuk grond wil boer, is die sentiment daar rondom by beide sterk. Geen argument van ekonomie van skaal en voedselsekerheid kan dit wegneem nie.

Alhoewel in Afrika niks ondenkbaar is nie, is dit baie meer waarskynlik dat na die grondwetverandering (of al voor dit) vrugbare grond van blanke eienaars, veral as hulle meer as een plaas besit, gevat gaan word as klein stukkies grond in Orania waar ‘n gemeenskap op bly en wat net deur middel van duur besproeiingstegnologie bruikbaar is. Die sterk individualisering van die blanke boere en hulle vertroue in die mark en in hulle kapitaal maak hulle nou ook baie meer kwesbaar as ‘n gemeenskap soos Orania wat bereid was en is om minder geld te maak met volkseie arbeid, maar wat daardeur ʼn groot bate vir homself geskep het, naamlik effektiewe beheer. Natuurlik kan ons nie rustig slaap nie, want onteiening van grond gaan almal benadeel en die land net verder laat verval, met meer konflik en geweld, ‘n verder verswakkende ekonomie en verswakkende rasseverhoudings. Dit is ook ons mede-volksgenote wat hulle grond verloor en van wie ons onsself nie kan losmaak nie.

Ons bepleit nog altyd konsentrasie in ‘n yl bevolkte gebied sodat ons so vêr as moontlik vir ons self kan sorg en dit wat ons s’n is ook kan verdedig as dit moet. Orania sal aan die gronddebat moet deelneem en probeer beding vir ʼn spesiale skikking vir ons. Immers is Orania uniek en sy uniekheid het ook in 2000 gemaak dat ons as eie plaaslike owerheid kon voortbestaan en nie by ʼn munisipaliteit ingedeel is nie.

Deur: Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Enjoyed this post? Share it!