Oorlog tussen DA en de Lille word al hoe smeriger selfs slaapkamerpraatjies word nou onthul

Die oorlog tussen die DA en Patricia de Lille, afgedankte burgemeester van Kaapstad, raak al hoe smeriger, met beskuldigings van slaapkamerpraatjies, rassisme, seksisme en boelietaktiek.

De Lille word daarvan beskuldig dat sy gesê het ’n bewering teen haar (De Lille) het onder die kussingsloop van Xanthea Limberg en JP Smith, albei lede van die nou ontbinde burgemeesterskomitee van die Kaapstad-metroraad, uitgebroei.

Smith sê wat die status van sy en Limberg se verhouding is, is irrelevant. Dit het niks met die egtheid te doen van die SMS wat Limberg sê sy van De Lille ontvang het om haar te beïnvloed in die keuse van wie die stadsbestuurder moet wees nie.

“Ons is goeie vriende en ons sal nog kyk in watter rigting ons verhouding ontwikkel,” sê Smith.

Hy sê elke keer wanneer ’n bruin mens iets doen wat De Lille nie pas nie, beskryf sy die persoon as ’n “pop” wat deur iemand anders beheer word.

“Dit is ’n vernedering vir Limberg om aan te voer dat sy onder iemand anders se invloed besluite neem. Die waarheid is dat ek deur Xanthea beïnvloed is om sterk te wees en met die waarheid van De Lille se optrede vorendag te kom,” sê Smith.

De Lille het by navraag erken sy het gesê dat die aantyging onder die kussingsloop van Limberg en Smith uitkom. “Ja, dit is ’n ope geheim. Ek het niks nuut gesê nie”.

Natasha Mazzone, adjunk-voorsitter van die DA se federale raad, sê De Lille se kommentaar oor Smith en Limberg is seksisties en rassisties.

“Die opmerkings stem ooreen met De Lille se soort optrede om te boelie en enigiemand te verneder wat onthul watter soort mens sy is.”

Sy sê in ’n verklaring die waarheid is dat De Lille aan Limberg ’n SMS gestuur het met die woorde: “Ek wil vir Achmat hou, so gee aan hom die hoogste punte.”

Die SMS wat Patricia de Lille na bewering aan Xanthea Limberg gestuur het.
Oorlog tussen DA en de Lille word al hoe smeriger selfs slaapkamerpraatjies word nou onthul

Achmat Ebrahim is die voormalige stadsbestuurder van die Kaapstad-metro. Hy het op 15 Januarie bedank hangende ’n onafhanklike ondersoek deur die regsfirma Bowman Gilfillan oor ernstige bewerings teen hom, De Lille en ander hoë amptenare. Een van die bewerings is dat die diefstal van R43 miljoen se kaartjiegeld van die MyCiti-busdiens geheim gehou is.

Nadat die Bowman Gilfillan-verslag op 5 Januarie aan ’n geslote vergadering van die metroraad voorgelê is, het die raad aanbeveel dat tugstappe teen Ebrahim en die stad se kommissaris van vervoer, Melissa Whitehead, ingestel word.

Volgens Mazzone het De Lille nog nie kategories ontken dat sy ’n SMS aan Limberg gestuur het waarin sy inmeng met die aanstellingsproses van die stadsbestuurder nie.

Sy sê De Lille het ook na bewering vir Craig Kesson, ’n uitvoerende direkteur in die kantoor van die burgemeester, geboelie en geviktimiseer, asook vir Lindiwe Ndaba, ’n portefeuljebestuurder oor eerlikheid in die Kaapstad-metro, toe Ndaba die fluitjie geblaas het oor wanadministrasie in die metro.

Volgens Mazzone het De Lille ’n lang geskiedenis van boelietaktiek, intimidasie en viktimisasie van enigeen wat haar bevraagteken en opkom teen haar.

“Dit is waarom die DA hou by sy besluit om haar lidmaatskap op te skort in die belang van individue en dienslewering wat onder haar verdelende leierskap skade gely het,” sê Mazzone.

* Regters Patrick Gamble en Monde Samela sal Dinsdag uitspraak lewer in De Lille se aansoek om heraangestel te word as burgemeester totdat ’n hersieningsaansoek afgehandel is. Die hersieningsaansoek gaan oor die DA se proses om De Lille uit die party te skop, haar as raadslid van die Kaapstad-metroraad af te dank en as burgemeester in die pad te steek.


Enjoyed this post? Share it!