Oproep vir Matie Alumni om Afrikaans by Stellenbosch Universiteit te Verdedig met Konvokasie Stem

Tussen 7 Februarie en 7 Maart vind `n verkiesing plaas waarin die alumni van die Universiteit van Stellenbosch 4 (vier) Konvokasielede kan aanwys om op die US Raad vir die periode 2018 tot 2022 te dien.   Ek wil graag saam met mnr Jan Heunis, SA en president van die US Konvokasie, en prof. Christo Viljoen, oud-president van die US Konvokasie, vier kandidate sterk aanbeveel.

As u ‘n graad van die US ontvang het, is u geregtig op ‘n stem.   Die verkiesing  vind plaas tussen 7 Februarie en 7 Maart. As u teen 15 Februarie nog nie ‘n stembrief ontvang het nie, skryf asseblief aan hierdie adres om een aan te vra: konvokasie@sun.ac.za

Die verkiesing van vier lede van die Konvokasie om op die Raad van die Universiteit van Stellenbosch vir die periode 2018 tot 2022 te dien, is op hande. Daar is ook ‘n buitengewone verkiesing van een lid vir die periode 2018 tot 2020 veroorsaak deur ‘n Konvokasie-verkose lid van die Raad wat net die helfte van sy termyn uitgedien het.

Aanbevole kandidate

Ons wil graag die volgende vier kandidate sterk by u aanbeveel:

  • Mnr. Melt Hugo, nagraadse student in natuurwetenskappe
  • Prof Albert Grundlingh,  Professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch en redakteur van die US Feesbundel, 1918-2018, wat later vanjaar verskyn
  • Mnr Johan Theron, Kommersiële Litigant Werksmans Prokureurs, huidige lid van die US  Raad.
  • Prof Wannie Carstens word aanbeel vir die verkiesing waarin een lid net vir die periode 2018 tot 2020 verkies word

Kritiese besluite wat wag

Gedurende die volgende vier jaar van die US se bestaan moet krities belangrike  besluite geneem word wat die instelling se koers en karakter in sy tweede eeu gaan bepaal.
Die Raad sal moet duidelikheid kry of hy die aanbod in Afrikaans as onderrig- en kommunikasietaal bloot as simboliese gebaar beskou, iets wat binne die volgende vier of vyf jaar uitgefaseer kan word.
Tegelykertyd sal die Raad moet besluit of die US enige verantwoordelikheid ten opsigte van ‘n bepaalde vorm van kultuur-oordrag het. Indien hy van mening is dat dit nie die geval is nie, moet hy dit duidelik aan die publiek uitspel.

Sedert 2002 was die US Konvokasie die enigste statutêre liggaam van die US wat bly aandring het op ‘n vaste, volwaardige en volhoubare aanbod in Afrikaans. Dit beteken nie die uitsluiting van Engels nie, maar wel dat die Engelse aanbod nie dié in Afrikaans ondergrawe en stelselmatig uitwis nie. Dit het inderdaad tussen 2008 en 2016 gebeur.

Die aandrang spruit uit die volgende oorwegings:

  • Afrikaans is onteenseglik die doeltreffendste medium van onderrig vir mense wie se huistaal Afrikaans is. Daar is drie Engelsmedium-universiteite in die Wes-Kaap  – ‘n provinsie waar Afrikaanssprekendes die meerderheid is. Bruin Afrikaanssprekendes is die groep met die laagste koers van deelname aan universiteitsonderrrig en ook die laagste deurvloeikoers op universiteit. Die agteruitgang het in 1990 begin toe ‘n toestroming van swart studente die Universiteit van Wes-Kaap genoodsaak het om van Afrikaans na Engels as voetaal oor te skakel. In die politieke omstandighede van daardie tyd het die bestuur nie veel van `n keuse gehad nie.
  • Die US het ‘n spesiale bemagtigingstaak om hierdie groot agterstand van bruin Afrikaanssprekendes in deelname aan tersiêre onderrig om te keer.
  • Die US Raad en Bestuur moet gekonfronteer word met die konkrete behoeftes en verwagtinge van die gemeenskappe wat hy in die eerste plek bedien. In die enigste meningsopname wat die US Raad ooit van ‘n onafhanklike instansie aangevra het (die Schlemmer-verslag van 2008) het meer as 80 persent van die Afrikaanssprekende studente en ongeveer 40 persent van die Engelssprekende studente oorwegend Afrikaansmedium-onderrig verkies.

‘n Ander pad

Instede daarvan om hierdie verslag met erns te bejeën en die beleid daarop te skoei, het die US sedert 2008 ‘n beleid gevolg wat Afrikaans op die kampus al meer gemarginaliseer en Afrikaanssprekendes van alle kleure vervreem het. Die manifestasie daarvan was die verdubbeling, tussen 2008 en 2016,  van die inname van Engelstalige studente (van 7 000 tot 14 000), waarvan die oorgrote meerderheid wit was, en toenemende aanstelling van dosente wat nie Afrikaans magtig is nie. Die US het in 2016 in die Kaapse Hooggeregshof erken dat meer as 200 dosente (tussen ‘n kwart en ‘n vyfde van die totaal) nie in Afrikaans kan klas gee nie en  dat die universiteit sy eie taalbeleid verontagsaam het.

Dit lyk of die US grootliks aangevuur word deur die drang om groter internasionale aansien te  verwerf deur klasse oorwegend in Engels aan te bied. Al meer Engelstalige dosente is aangestel in die geloof dat dit uitnemendheid bevorder.  Hulle is nie soos vroeër verplig om in Afrikaans vaardig te word nie.
Om in ‘n wankelende staat soos Suid-Afrika met sy ernstige fiskale probleme transformasie op hierdie manier te bevorder, lyk na ‘n ernstige oordeelsfout. Dan praat ons nie eers van die verspeelde geleentheid om sowel transformasie as kultuur-oordrag deur middel van Afrikaans te bevorder nie.

Verskeie studies voer aan dat die “Ivy League” van top universiteite in die noordooste van die VSA hul sukses grootliks te danke het aan die noue bande tussen die besture van die onderskeie inrigtings en hul alumni. Hulle is grootliks eensgesind oor die wyse waarop die universiteit sy onderrigtaak verrig en hom in die samelewing posisioneer. Dit is nie wat tans die geval by die US is nie.

Erfenis en kultuur-oordrag

Die huidige US-beleid ignoreer nie slegs die regionale demografie nie maar ook een van die belangrikste funksies van die moderne universiteit, naamlik kultuur-oordrag. In 2016 het John Coetzee, Nobel-pryswenner vir literatuur, só gereageer op die US se   konsep taalbeleid (wat grootiks ooreenstem met die beleid van vandag) en die Konvokasie-bestuur se kommentaar daarop:

“My sympathies are all on your side. The crucial fact, for me, is that the official Taalbeleid document does not once use the word ‘kultuur’. The university management seems to conceive of language as an instrumental communication system without any culture-bearing role.” (Kommunikasie aan H. Giliomee, 16 April 2016)

Ons versoek u dringend om u steun aan die onderstaande vier kandidate te verleen om hierdie gebreke in die US taalbeleid aan te spreek:

  • Wannie Carstens
  • Albert Grundlingh
  • Johan Theron
  • Willie Liebenberg

 

Hermann Gillomee, Jan Heunis, Christo Viljoen



 

Enjoyed this post? Share it!