Ouditwet gaan verander word – net nog ‘n aanduiding dat strukture onder ANC-beheer onbevoeg is om te regeer

Wysigings aan die Openbare Ouditwet wat daarvoor voorsiening maak dat die Ouditeur-Generaal (OG) self amptenare wat hulle aan finansiële misdrywe skuldig maak kan aankla by die vervolgingsgesag, is noodsaaklik omdat die nodige politieke wil by die ANC ontbreek om self op te tree.

Dit is VF Plus se reaksie op die nuwe wet, en sê verder dit is ʼn aanduiding dat strukture onder ANC-beheer onbevoeg is om te regeer.

Die wysigings bepaal dat die OG nou self oortreders sal kan aankla wat vir die onreëlmatige en misdadige vermorsing van openbare geld verantwoordelik is.

Hierdie optrede is ingevolge bestaande wetgewing, soos ondermeer artikel 32 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) die plig van die regerende party. Sy onvermoë om dit te doen het nou veroorsaak dat die OG onnodig hiermee opgesaal gaan word.

“Die wysigings aan die Openbare Ouditwet, wat die werksaamhede van die OG bepaal, is dus nie ‘n oorwinning vir die ANC nie, maar is nodig om amptenare en politici wat hul skaamteloos aan belastingbetalers se geld vergryp sonder enige werklike gevolge hok te slaan en die VF Plus verwelkom dit.”

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!