Panga-aanval op boer van Hoopstad: Mans vry, dossier ‘weg’

‘n Boer van Hoopstad is woedend omdat die vier mans wat hom in November met onder meer pangas aangeval het en wou doodmaak, op vrye voet is aangesien die polisiedossier weggeraak het.

Kapt. Stephen Thakeng, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die dossier is soek in die saak waarin die viertal op aanklagte van poging tot moord en huisbraak sou teregstaan.

Koos Ludeke van ’n plaas naby Hoopstad in November nadat gewapende mans hom aangeval het. Die mans is intussen vrygelaat, aangesien die dossier verdwyn het.

Koos Ludeke sê hy het vroeër vandeesmaand toevallig verneem die aanvallers is vrygelaat en drie van hulle is in Bloemhof opgemerk van waar hulle kom.

Sy vrou, Delia, het op 22 November verlede jaar ten tyde van die aanval op sy plaas Boschplaas by Hoopstad ’n waarskuwingskoot afgevuur wat die aanvallers afgeskrik en op die vlug laat slaan het. Al vier die aanvallers, almal in die 20, is later met behulp van boere van die omgewing aangekeer.

Hulle het Ludeke met pangas, messe en ’n staalstang aangeval. “Hulle wou my kop afkap en my doodmaak,” het hy destyds aan Netwerk24 gesê.

Volgens Thakeng het die vier verdagtes op 15 Januarie in die hof verskyn en een van hulle is op borgtog van R3 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel.

“Die dossier is op 19 Januarie na die Welkomse streekhof gestuur waar die verdagtes op 26 Januarie sou verskyn. Met die verskyningsdatum kon die dossier nie gevind word nie en die saak is weer uitgestel.

“Die saak is vroeg vandeesmaand van die rol geskrap en die verdagtes is vrygelaat, maar die stasiebevelvoerder van die Hoopstad-polisiekantoor, kapt. Lettie van Eeden, het gereël dat ’n verklaring weer van Ludeke geneem word.

Ons slaap nie lekker nie. ’n Dossier kan mos nie net wegraak nie.

“Die vier sal weer in hegtenis geneem word, nou enige tyd,” het Thakeng Dinsdagmiddag gesê.

Volgens hom het Van Eeden ’n interne ondersoek gelas om vas te stel wat van die dossier geword het.

“Ek is kwaad en teleurgesteld in die polisie. Ek is nooit in kennis gestel dat die mans vrygelaat is nie. Die stasiebevelvoerder het ook nie met my oop kaarte gespeel nie,” sê Ludeke.

“Watter boodskap stuur hierdie aan die aanvallers? Hulle gaan dink hulle kan maar doen wat hulle wil weens die polisie se ondoeltreffendheid.

“Ons slaap nie lekker nie. ’n Dossier kan mos nie net wegraak nie.

“Een van my kleindogters, wat op die plaas gekuier het tydens die aanval en aanskou het wat gebeur, ontvang sielkundige behandeling. Wat as sy haar in een van hulle vasloop? Bloemhof is net 13 km van waar ons woon.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!