Paul Erasmus, ons wonder hoe voel jou volk oor die uitlating? – “Winnie ‘moet standbeeld vir versoening’ kry”

“Ma’am Winnie” moet ’n standbeeld vir versoening kry.

Só sê Paul Erasmus van George, ’n eertydse veiligheidspolisieman wat regstreeks vir propaganda verantwoordelik was wat daarop gerig was om Winnie Madikizela-Mandela in ’n slegte lig te stel.

Volgens Erasmus kon Madikizela-Mandela nie by Stompie Seipei se moord betrokke gewees het nie. “Anders sou ek daarvan geweet het. Ons sou dit teen haar gebruik het. Daar was geen getuienis nie.”

Sy hegte vriendskap met Madikizela-Mandela, oftewel “Ma’am” soos hy haar genoem het, het begin nadat hy haar in die 90’s in Pretoria deur ’n Nederlandse joernalis ontmoet het.

“Dit was die belangrikste dag in my lewe. Ek was doodbang. Ek het alles vertel wat ek gedoen het. Sy – Winnie – het gesit en luister en die trane het geloop. Daarna het sy haar arm om my gesit en gesê: ‘Dankie dat jy die moed het om my die waarheid te vertel.’ Ek was baie verlig. Ek kon 200 jaar tronkstraf gekry het as sy my nie vergewe het nie.”

Hy sê Madikizela-Mandela was ’n toegewyde Christen. “Min mense weet sy het drie dae voor haar dood vyf uur lank in ’n kerk gaan sit.”

Hy het haar onlangs nog die laaste keer gesien toe hy Johannesburg besoek het. “Ek het vir haar ’n bos blomme na haar huis geneem wat ’n joernalis vir my gekoop het omdat ek nie ’n bloemiste kon kry nie.”

Volgens hom het sy ’n intense belangstelling in sy kinders, Dylan en Candice, gehad.

“Sy het haar trouring aan Candice gegee as ’n gebaar van versoening. Candice het vandag nog die ring.”

Volgens hom was Dylan, wat Dinsdag 31 geword het, ’n riem onder Madikizela-Mandela se hart. Hulle het baie aan huis by haar in Soweto gekom en daar geëet. Op ’n keer het Dylan sokker saam met kinders by Madikizela-Mandela-hulle gespeel. “Sy het hulle so gekyk en gesê: ‘Is dit nie hoe Suid-Afrika eintlik moet wees nie?’.”

Sy het ook ’n wonderlike humorsin gehad. “Sy het een keer vir Dylan gesê: ‘Ons sal ’n demokraat van jou maak, maar oor my het jy die pad byster geraak.’ Ons het lekker gelag.”

Hy vertel ook hoe lang rye mense by haar huis sou sit en hoe sy hulle gehelp het, onder meer met geld om kos te koop.

Volgens hom was Madikizela-Mandela twee dinge – swart, sterk en ’n vrou, asook die verpersoonliking van wit mense se vrese in Suid-Afrika.

Toe Erasmus sê sy moet dalk haar motor se 666-nommerplaat verander, het sy gesê: “Laat mense dink wat hulle wil.”

Volgens hom was sy ’n wonderlike mens wat sy lewe verryk het. “Ek was 14 keer vir posttraumatiese stres in die hospitaal, maar sy het in een dag baie meer deurgemaak as ek in my hele lewe.”

Volgens hom verdien sy ’n standbeeld om versoening.

Vorige bevindinge

Die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) het destyds verdoemende bevindings teen Winnie Madikizela-Mandela en die Mandela United-sokkerklub gemaak.

Dié bevindinge het onder meer gelui dat:

  • Madikizela-Mandela sentraal tot die stigting van die Mandela United-sokkerklub was wat later in ’n private vigilante-eenheid rondom Madikizela-Mandela en haar huise in Orlando-Wes en Diepkloof (Soweto) ontwikkel het;
  • Die samelewing se woede teenoor Madikizela-Mandela en die sokkerklub die brand by die Mandela-huis in Orlando-Wes in Julie 1988 veroorsaak het wat daartoe gelei het dat politieke, gemeenskaps- en kerkleiers haar versoek het om die sokkerklub te ontbind;
  • Die Mandela United-sokkerklub betrokke was by ’n aantal kriminele aktiwiteite wat moord, marteling, aanranding en brandstigting in die gemeenskap ingesluit het;
  • Madikizela-Mandela bewus was van die kriminele aktiwiteite en die kommer wat dit in die gemeenskap veroorsaak het, maar dat sy doelbewus verkies het om nie die probleme wat uit die sokkerklub gespruit het aan te pak nie;
  • Diegene wat Madikizela-Mandela en die Mandela United-sokkerklub teengestaan of daarmee verskil het, as verklikkers gebrandmerk en vermoor is;
  • Die etikettering van opponente deur Madikizela-Mandela as verklikkers die indruk geskep het dat hulle wettige teikens was;
  • Madikizela-Mandela kennis gedra het en/of deelgeneem het aan die aktiwiteite van klublede en dat hulle gemagtig en/of opdrag gegee is deur haar;
  • Madikizela-Mandela nie verantwoording aan gemeenskaps- of politieke strukture gedoen het nie en dat sy polities en moreel aanspreeklik was vir die erge menseregtevergrype deur die Mandela United-sokkerklub;
  • en Sy self verantwoordelik was vir sulke growwe menseregtevergrype.

Die verslag lui voorts dat Madikizela-Mandela egter in die WVK se geslote verhore oor die geweldaddige aktiwiteite van die Mandela United-sokkerklub herhaaldelik die beweringe teen haar ontken het.

  • Netwerk24 het vroeër berig hoe Madikizela-Mandela in 1991 skuldig bevind is aan menseroof en aanranding en ses jaar gevangenisstraf opgelê is vir haar aandeel in die Stompie Seipei-sage. Die vonnis is later versag tot ’n boete en opgeskorte vonnis.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!