Plaasaanval Vrystaat : Man koelbloedig vermoor, vrou aangerand en verkrag

’n Plaasbestuurder (40) van Ladybrand in die Vrystaat is “koelbloedig vermoor” nadat sy aanvallers sy hande agter sy rug vasgebind, hom aan ’n draad vasgemaak en daarna met messe gesteek het.

Die aanvallers, vermoedelik van Lesotho, het ook die plaasbestuurder van die plaas Brandenburg, sowat 5 km buite Ladybrand, se vrou (39) aangerand en verkrag.

Jan van den Berg, eienaar van Brandenburg, sê die voorval het Maandagaand omstreeks 19:00 gebeur toe die plaasbestuurder en sy vrou by die huis gekom het.

Hy was ’n baie betroubare en ordentlike persoon. Hy was ’n man van integriteit vir wie ek baie respek gehad het.

Die egpaar het drie kinders: ’n dogter van 14 jaar en twee seuns van onderskeidelik 11 en sewe jaar oud. Die kinders gaan skool op Ladybrand waar hulle in die koshuis is.

Die twee aanvallers het eers by die egpaar se huis ingebreek en hulle toe in ’n stoor ingewag. Die man het die motor gebêre terwyl sy vrou by die huis ingegaan het.

“Die vrou het dadelik gesien daar is by die huis ingebreek. Daar was ’n gaffel op die vrieskas. Sy het omgedraai en na haar man geroep. Toe bestorm die aanvallers hulle.

“Hulle is buite die huis aangeval en vasgebind. My werker is sowat 100 m gesleep na ’n ander stoor waar sy voete aan ’n draad vasgemaak en hy koelbloedig vermoor is,” sê Van den Berg.

Die aanvallers het daarna met die egpaar se Opel Corsa, twee selfone en bankkaarte gevlug.

Volgens Van den Berg kon die vrou haar egter ná die aanval losmaak en sy het sowat 4 km deur sonneblomme gehardloop om hulp te gaan soek. Van den Berg is eers omstreeks 23:40 gebel en van die voorval ingelig waarna hy en sy broer, Antoon, en ’n werker dadelik na die plaas gejaag het.

“Dit was erg. Ons het nie gedink dit sal met ons gebeur nie en is geskok. Dit is sleg, veral vir sy vrou en kinders. Dit is wreed. Hierdie man het op die plaas grootgeword, so dit voel soos jou eie mense.

“Ek het nog nooit so iets gesien nie. Hy was ’n baie betroubare en ordentlike persoon. Hy was ’n man van integriteit vir wie ek baie respek gehad het. Daar is min mense soos hy,” sê Van den Berg.

Die vrou is in ’n stabiele toestand in die hospitaal in Ladybrand.

AO Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die egpaar het albei steekwonde opgedoen. Een van die aanvallers het glo ook die vrou by die huis ingeneem terwyl sy makker by die plaasbestuurder gewag het. In die huis het die aanvaller die vrou na bewering verkrag.

Volgens Earle het die aanvallers sowat 1 km van die toneel af beheer oor die motor verloor en toe te voet verder gevlug. Hulle het die selfone in die motor gelos.

Van den Berg sê hy hoop die aanvallers word aangekeer, want “mense wat ander mense so wreed vermoor, is ’n gevaar vir die gemeenskap”.

Volgens hom is die vermoede dat die aanvallers Lesotho-burgers is omdat sy plaasbestuurder probleme gehad het met mense wat hul beeste oor die grens jaag om te wei.

Earle sê aanklagte van moord en verkragting word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


Enjoyed this post? Share it!