Plaashuis in KZN deur betogers aan die brand gesteek

‘n Plattelandse gemeenskap van Umlalazi in die noorde van KwaZulu-Natal het Sondagaand ’n plaashuis aan die brand gesteek en na bewering ’n voertuig gesteel.

“Die protesaksie het laatmiddag begin toe gemeenskapslede van Umlalazi die R66 en P230 aan die buitewyke van Eshowe versper het,” het kapt. Nqobile Gwala Sondagaand gesê.

Volgens Gwala is die betogers na die plaas en het ’n gebou aan die brand gesteek en ’n Isuzu-dubbelkajuitbakkie gebuit.

Gwala het die publiek vermaan om uit die gebied weg te bly aangesien die situasie uiters gespanne is.

“Die polisie probeer die vrede bewaar.”

* In Maart vanjaar het protesoptrede ook in die omgewing uitgebreek toe ’n veiligheidswag ’n 30-jarige man wat op ’n plaas gaan visvang het, doodgeskiet het. Die man se dood het daartoe gelei dat ’n groep van 300 mense ’n plaas in die omgewing aangeval het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!