Polisiekonstabels in hof ná rooftog by supermark in Standerton

Vier polisiekonstabels wat na bewering op 7 Januarie ’n supermark in Standerton beroof het, is Woensdag in die landdroshof op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Thabiso Phillemon Lepoto (35), Jabu George Sekhoto (37), Siphiwe Esssau Ntshangase (45) en Fika Thabo Makhubu (33) is Dinsdag in hegtenis geneem.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê die konstabels het by die supermark ingestap en hulle voorgedoen as inspekteurs van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Daarna het hulle glo die eienaar van ’n onbekende bedrag geld beroof en gevlug.

Hul saak is tot 5 Mei uitgestel.

Hlathi sê daar is ook met ’n interne polisieondersoek begin.


Enjoyed this post? Share it!