Regering wil aansoeke om skaliegasontginning in Sentrale Karoo versnel

Kort nadat die Nederlandse petroleumreus, Shell, tot enorme verligting van talle mense, aangekondig het dat hulle nie sal voortgaan met skaliegasontginning in die Karoo nie, word die hele storie van nuuts af opgehaal.

Die nuwe minister van Minerale en Energiesake, Gwede Mantashe, het gister bekend gemaak dat die regering aansoeke om skaliegasontginning in die Sentrale Karoo sal versnel. Volgens hom is dit ‘n waardevolle inkomstebron wat die land se ekonomie sal herstel.

Front Nasionaal kan nie insien hoe hierdie land se ekonomie daardeur herstel kan word nie. Dis eenvoudig – as jy meer spandeer as wat jy kan inkry deur belastings en beleggings, leef jy op skuld. Voeg daarby politici wat steel asof dit uit die mode gaan, dan is die vernietiging van ‘n hele landstreek net nog ‘n voorbeeld van kortsigtige en skaamtelose gierigheid.

Daar is afdoende bewyse daarvan dat skaliegasontginning (fracking) onherstelbare skade aan die omgewing, die water, die landbou en heelwat ander elemente van ‘n samelewing aanrig. Die Karoo is alreeds droog en die beskikbare water moet ten beste benut word. Daarby is landbou die ruggraat van die Karoo, behalwe vir die feit dat dit van die min ongerepte natuurgebiede in die land is en enorme toerismepotensiaal het.

Gwede Mantashe en die regering waarin hy dien is bereid om ‘n hele landstreek en sy inwoners uit te lewer sodat daar nog meer geld kan wees om te mors. Asof die vernietiging van die land se infrastruktuur, landbou, ekonomie en internasionale aansien nie alreeds genoeg merkies gelaat het op hulle verderflike kerfstok nie!

Deur: Front Nasionaal


Enjoyed this post? Share it!