n Jong man van Ladybrand moes mediese behandeling ontvang nadat hy verlede Donderdag op ‘n plaas buite Ladybrand aangeval, met ‘n mes gesteek en in die huis toegesluit is.
Kaptein Phumelelo Dhlamini, woordvoerder vir die SAPD, sê Ruaan King (21) is omstreeks 13:30 deur drie mans met klapmusse oor hul koppe en met waterstewels aan in die huis aangeval. Ruaan het op die stoep gesit toe die drie mans hom aangeval het.
Die aanvallers het nie ‘n geëlektrifiseerde heining geknip soos daar vroeër in ander media berig is nie maar toegang is bekom deur ‘n gat wat onder die heining deur gegrou is om sodoende toegang tot die werf op die plaas Brakfontein te kry. ‘n Tuiste vir die Kings vir die afgelope 7 jaar waar die King egpaar hul kinders groot gemaak het en later ook oupa en ouma geword het.
Die plaas Brakfontein is sowat 10 km buite Ladybrand geleë oppad na Clocolan. Daar’s twee plaashuise op die plaas wat uitverhuur word deur eienaars, Abrie en Estelle Roode. Die ander huis het leeg gestaan gedurende die tyd.
Ruaan se ouers, Amanda en Billy King is bekende mense in die gemeenskap. Amanda is die bestuurder by die plaaslike Bed Shop en Billy werk by HEE in Ladybrand. Die Kings het intussen verhuis na Clocolan.
In ‘n eksklusiewe onderhoud met REKORD is die gebeure weer herleef wat ‘n mens net kan laat kopskud en dankbaarheid uitspreek oor die feit dat die jong man se lewe gespaar is. As Amanda King nie op die SMS gereageer het nie sou die storie vandag ‘n hele ander wending ingeslaan het.
Soos reeds aangedui het Ruaan op die stoep gesit en rook. Ruaan was alleen by die huis, sy ouers was in Nelspruit gewees toe die drie mans hom aangeval het. Ruaan het probeer terug baklei maar die drie mans was eenvoudig net te sterk. Die drie mans was vir Ruaan vreemdes gewees, maar die drie mans was nie onbekend met die huis of sy inhoud nie. Gedurende die gestoeiery is Ruaan in die hand gesteek terwyl hy ook met ‘n bamboes kierrie herhaaldelik geslaan is.
Die drie mans het een vraag bly vra: “Waar’s die diamante en die geweer?”
Een van die drie mans het ook beweer dat sy ma vir die Kings in 2008 gewerk het en dat sy nooit betaal is nie. Ruaan het toe besef dat hy of sy ouers nie die mense is na wie die drie mans opsoek is nie omrede die Kings in 2008 nog in Modderpoort gebly het asook die feit dat sy ma nog nooit ‘n huishulp gehad het nie.
Dit het egter nie die drie mans gestop om Ruaan verder seer te maak nie.
Hulle het hom geskop, geklap en die houe van die bamboes kierie het bly neer reën op die kind wat sekerlik gedink het vandag gaan hy dood. Hulle het Ruaan binne die huis ingesleep sy hande en voete met repe plastiek vasgebind. Sy oë, neus en mond toegebind met die doel om die jong man te laat versmoor.
Die mans het Ruaan meegedeel dat hulle gaan terugkom later as hy nie alreeds dood is nie om seker te maak hy is dood. Die drie mans se volgende vraag het Ruaan koud gelaat. “Waar is die TV wat in die ander kamers gestaan het” Sowat drie maande gelede is daar ook ‘n poging gewees om by die huis gedurende Saterdag oggend in te breek. Die Kings het vroeg huis toe gekom en gevind dat die TV waaroor die een verdagte nou navraag doen op die bed staan.
Gedurende die tyd wat die Kings op die plaas woonagtig is, is daar al ‘n paar keer ingebreek maar nog nooit is iemand aangeval of beseer nie. Dis nou bevestig dat dieselfde mans wat nou na diamante en ‘n geweer soek vroeër ook by die Kings ingebreek het. Gedurende die tyd het die drie mans kamer tot kamer, kas vir kas, bottel vir bottel oop gemaak en gesoek na die diamante en ‘n geweer.
Op ‘n video wat aan Rekord gewys is lyk dit of ‘n orkaan was wat die huis getref het soos alles uitgegooi is en bemors is. Die video wys ook die voetspoortjies van twee hondjies wat Ruaan probeer skerm het, daar waar hy weerloos vir die dood gelos op ‘n koue badkamer vloer waar die plas bloed die lyne van ‘n vreesbevange jongman vasgelê het, terwyl die drie mans die room van die melk in die yskas uitgedrink het, toebroodjies gemaak het en kort kort Ruaan verder gaan skop en seermaak het.
Die drie verdagtes het genoeg tyd gehad om alles mooi in komberse te pak wat hulle nog wou steel voordat hulle hulle eerste buit na buite gedra het. Hier het die een verdagte wat gedink het hy doen die regte ding deur die alarmstelsel uit die muur te ruk die fout gemaak wat Ruaan se lewe gered het. Die alarmstelsel is gekoppel aan ‘n SMS sisteem en sodra daar gepeuter word met die alarm ontvang die eienaar ‘n SMS.
Amanda King wat in Nelspruit was het die SMS ontvang en dadelik haar seun probeer kontak. Voicemail na voicemail het Amanda dadelik kontak met ‘n vriendin, Lindy Sutherland in Ladybrand gemaak.
Lindy se man Pieter is na die toneel waar die SAPD en boere gemeenskap ook gevra is om te kom help. Binne minute was die plaashuis ‘n miernes van polisie en boere wat die versoek om hulp beantwoord het.
Die huis was gesluit gewees en die Polisie het die agterdeur met ‘n “bolt cutter” oop geknip en die deur afgeskop.
Ruaan het gedurende die tyd daarin geslaag om die plastiek uit sy mond te kry want soos Rekord verstaan het hy vreeslik gesukkel om asem te haal.
Ruaan het daarin geslaag om sy hande los te sny met ‘n mes. Sy hande was opgeswel en hy is dadelik na die Hospitaal in Ladybrand gehaas waar hy behandeling vir sy snye, sere en opgeswelde hande ontvang het.
Rekord verstaan die SAPD het baie goeie vingerafdrukke gekry en die SAPD se bystand, tyd en moeite met die ondersoek tot dusver moet gelukgewens geword. Rekord kan ook berig dat die King gesin ‘n mes in een van die gebondelde komberse gevind het wat daar in weg gesteek was. Dit kan nie bevestig word nie maar die moontlik bestaan dat dit wel die mes was waarmee Ruaan gesteek is.
Die ondersoek duur voort en enige inligting kan met die plaaslike SAPD gedeel word.
Die Kings wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om almal te bedank wat gehelp en bystand gegee het gedurende die tyd.
Dis ‘n week later en alles is terug na normaal toe vir die King gesin. As dit nie vir ‘n SMS was nie sou ons ‘n hele ander storie gehad het om vandag te deel.
*Gerhard Olivier
Plasing gekry op BKA Facebook Blad