Richardsbaaise gesin word ontvoer na rower voertuig kaap

Rowers het lede van ’n Richardsbaaise gesin ontvoer nadat hulle ’n 63-jarige vrou se voertuig gesteel het.

Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder, sê ’n 27-jarige man het ’n huisroof in die KwaMbonambi-gebied aangemeld en gesê vier mans met klapmusse op die kop het by sy huis opgedaag.

Hulle het sy ma se voertuig, ’n Toyota Fortuner, Maandag gebuit en met lede van die gesin weggejaag, het hy beweer.

Dit is nie seker hoeveel mense ontvoer is nie, sê Mbhele.

Die blitspatrollie van Richardsbaai en die honde-eenheid van Empangeni het onmiddellik na die voertuig begin soek. Dit is op die N2 opgemerk waar dit in ’n noordelike rigting gery het.

Die polisie het dit gevolg en in ’n stadium het die rowers en polisie op mekaar geskiet.

Die ontvoerdes is daarna by ’n suikerrietplantasie buite Empangeni afgelaai en die rowers het ’n ent verder, naby Phelandaba, stilgehou, weggehardloop en in die digte bosse verdwyn.

Klagte van huisroof en ontvoering word ondersoek en die soektog na die verdagtes duur voort, sê Mbhele.

Sy sê sportnutsvoertuie word gereeld in die gebied gesteel en dan oor die grens na Mosambiek gesmokkel.


Enjoyed this post? Share it!