Rugby kwyn weg by SABC se radiostasies

Rugbyliefhebbers sonder toegang tot DStv sal straks nie meer vanjaar na regstreekse radio-uitsendings van wedstryde kan luister nie.

Netwerk24 is in besit van ’n e-pos waarin Orapeleng Lebethe, SABC Sport se bemarkingshoof, werknemers inlig dat daar nie uitsaairegte bekom is om Superrugby- en Curriebeker-wedstryde op Radio 2000 en RSG uit te saai nie.

Die radio-uitsaairegte moet by SuperSport aangekoop word.

Volgens Clinton van der Berg, SuperSport se woordvoerder, is die sport-uitsaaireus meer as gewillig om die regte aan die SABC te verskaf.

“Dit was nog altyd vir ons ’n voorreg om radio-uitsaairegte vir die Curriebeker en Superrugby aan die SABC beskikbaar te stel,” het Van der Berg gesê.

“Ons het weereens die regte vir 2018 aan die SABC beskikbaar gemaak en sal verkies om dit eerder oor ’n langer (kontrak-)tydperk te laat strek.

“Die SABC het aan ons gesê dat hul raad eers hul begroting moet goedkeur voor hulle hulself tot die verkryging van die uitsaairegte vir Superrugby-wedstryde kan verbind. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat hulle hierdie regte sal bekom.

“Ons wag ook nog op finale terugvoer vanaf die SABC. Ons het ook nog nie enige terugvoer vanaf die SABC ontvang oor radioregte vir die Curriebeker nie,” sê Van der Berg.

In Lebethe se e-pos word aangedui dat daar alternatiewe planne beraam moet word om luisteraars op hoogte van sake oor rugby te hou.

Die afwesigheid van rugby op die radio sal die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se pogings om die sport meer toeganklik vir ’n groter gehoor te maak, ’n gevoelige slag toedien.

Saru moes ’n week voor laasjaar se Rugbykampioenskapswedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks ook ’n dreigende protesaksie in die kiem smoor.

Die vakverbond Cosatu het toe, met sy Wes-Kaapse leier, Tony Ehrenreich, aan die spits met protesaksie gedreig indien dié wedstryd nie regstreeks op een van die SAUK se drie TV-kanale uitgesaai word nie.

Daar is op die vooraand van die toets deur Saru aangekondig dat daar by die bestaande ooreenkoms van ’n vertraagde uitsending op SABC 2 gehou sou word.

In ’n verklaring oor Oktober se vergadering tussen Saru, SuperSport, Cosatu en die minister van sport, Thulas Nxesi, het Jurie Roux (Saru se uitvoerende hoof) gesê daar word vordering gemaak in die gesprekke oor sport se uitsaairegte.

Die SABC het nie gereageer op versoeke om kommentaar te lewer oor die kwessie nie.


Enjoyed this post? Share it!